Zahara de los Atunes in die suidelike Spaanse provinsie Cádiz is laasweek met die kragtige skoonmaakmiddel deurweek om die strand te 'ontsmet' ter voorbereiding vir die verslapping van Covid-19-inperkingregulasies in een van die lande wat die heel ergste deur die pandemie getref is.

Spanje het teen Donderdag reeds meer as 236 000 gevalle (die meeste naas Amerika) en meer as 24 000 sterftes aangeteken, maar hul corona-grafiek het ook nou moontlik 'n belowende afplatting begin toon. Daarom sal die land nou hul uiters streng maatreëls in die weke vorentoe stelselmatig in 'n vierfaseplan verslap.

In een van die nuwe stappe word kinders onder 14 nou toegelaat om vir 'n uur per dag buitentoe te gaan, ook strand toe, nadat hulle vir soveel weke binneshuis moes bly.

Ter voorbereiding vir die groter beweging onder Spaanse gemeenskappe het owerhede egter ook die sprei van ontsmettende chemikalieë in alles van strate, treinstasies en geboue tot in voertuie toegelaat om die omgewing van die virus te probeer reinig.

Plek-plek is selfs sogenaamde sneeukanonne, wat normaalweg gebruik word om sneeu op ski-hange aan te vul, ingespan om die ontsmetmiddels te versprei.

'n Paar amptenare van Cádiz het egter volgens sommiges te ver gegaan toe trekkers twee kilometer se strand by Zahara de los Atunes met bleikmiddel bespuit het.

"Dis heeltemal absurd," het María Benítez, hoof van 'n Spaanse omgewingsgroep, hieroor gesê: "Die strand is 'n lewende ekosisteem, en wanneer jy dit met bleikmiddel bespuit, maak jy alles in jou pad dood.

"Die bleikmiddel het alles doodgemaak, daar's niks meer te sien nie, nie eens insekte nie," het sy in die Spaanse media uitgevaar.


Die strand is boonop 'n beskermde area vir trekvoëls, en verskeie neste met eiers is onder meer in die 'skoonmaak'-proses verwoes.

’n Woedende Greenpeace Spanje het ook op Twitter ’n eier te gelê gehad: "Nee, die fumigasie van strande met bleikmiddel midde-in die voëlbroeiseisoen en gedurende die ontwikkeling van die weekdiere-netwerk wat kusvissery sal ondersteun… is nie een van Donald Trump se idees nie. Dit gebeur hier in Zahara de los Atunes".

Dié is natuurlik 'n verwysing na een van Trump se onlangse virus-uitlatings, naamlik dat wetenskaplikes moet ondersoek of die inspuit van pasiënte met ontsmetmiddels moontlik ’n behandeling teen COVID-19 sou kon wees.

Die besluit om die strand te bespuit, was "'n verkeerde skuif, 'n fout… maar dit is met die beste bedoelings gedoen", het Agustín Conejo, een van die betrokke amptenare in Cádiz geskerm.

Bronne: theguardian.com, bbc.com, independent.co.uk, YouTube