En as dit in wat soos ’n oogwink voel verbyvlieg, het mens darem die video's en foto’s om jou aan daardie pragtige dag – waarop jy ewig trou aan jou lewensmaat beloof het – te herinner.

Maar dit was glo nie die geval vir sommige kliënte van Mishqah Rhoda – ’n Kaapse fotograaf wie se besigheid Rhodagraph heet – nie. 

Vier van haar kliënte het teenoor Huisgenoot gal gebraak en aangevoer sy sloer al vir tot ’n jaar om al hul troufoto's beskikbaar te stel en dié wat wel foto's gekry het, beweer die kwaliteit is swak terwyl haar dienste hul duisende rande uit die sak gejaag het. 

September 2018

Aabidah* sê sy het Mishqah se fotografie-profiel, Rhodagraph, op Instagram gesien en haar gehuur vir haar troue in September 2018.

“Ek het haar R10 000 betaal vir al my digitale foto’s, twee koffietafelboeke en ’n hommeltuigvideo van die troue.”

“Dit is al meer as ’n jaar en al wat ek nog gekry het, is drie foto’s vier maande na die troue," voer sy aan.

“Die een is van my man en die ander is van my skoene.”  

Sy kontak Mishqah glo elke maand vir haar foto’s en dié gesmeek vir aandenkings van haar spesiale dag, frustreer haar en sy voel “regtig hartseer”.

Aabidah vertel sy is bang om regstappe teen Mishqah te neem uit vrees dat dié fotograaf dalk uit wraak haar troufoto's sal uitvee.

“Ek soek net my foto’s, dit is belaglik dat dit nou al vir so lank aangaan,” sê Aabidah. 

November 2018

Laaiqah* het ook Mishqah se fotografiebesigheid in die sosiale media gesien.

“Sy was glo die beste fotograaf, ons het haar tussen R12 000 en R13 000 betaal toe ons in November verlede jaar trou."

En nou beweer Laaiqah al wat sy sedertdien gekry het is ’n webskakel met 300 foto’s en dié skakel het ook al intussen verval. 

“Ons voel seer, want ons het geen goeie herinneringe nie,” sê Laaiqah en voeg by dat sy Mishqah drie keer ’n week vir haar foto’s vra.

“Ek was naïef om vooraf te betaal,” meen sy nou. 

November 2017

Mira* sê op haar beurt sy het Mishqah as haar videograaf ingespan en haar sowat R8 000 betaal toe sy in November 2017 trou en beweer nou sy het eers in Oktober 2018 ’n "rowwe" video gekry, na sy vir maande daarvoor gevra het.

Sy voer verder aan sy het nog nie die volle video van 15 minute gekry waarvoor sy reeds betaal het nie.

Januarie 2019

Nabeel* het die platinum-pakket van R9 200 gekies toe hy in Januarie vanjaar trou en al moes hy – soos die kontrak uiteensit – sy troufoto's na vier tot ses weke ontvang, wag hy steeds daarvoor en hy beweer Mishqah ignoreer sy boodskappe.

“Dit is baie teleurstellend, want jou troudag is die een dag wat jy nie kan herskep of herleef nie. Dit is veronderstel om die gelukkigste dag van jou lewe te wees en jy wil elke oomblik vasvang."

Terugvoer van Mishqah

Mishqah wou Huisgenoot eers ontmoet om dié beweringe te bespreek, maar het toe aangedui sy verkies om eerder in ’n e-pos kommentaar te lewer.

Hierin skryf sy dat sy elke “valse bewering” en “klagte” teen haar “een-vir-een uitsorteer” en dat haar kliënte hul foto's wel gekry het.

"Die vertraging wat ek met elke kliënt bespreek het, is ’n fout aan my kant met die troukoffieboeke. Maar tot dusver, is ek op datum,” voer Mishqah aan en bevestig dat haar wagperiode vir foto’s drie tot ses maande is.

“Ek het nog nooit geweier om mense terug te betaal nie," beweer sy verder. 

“My proses is as volg: Kliënte kry hulle foto’s via WeTransfer, kies dit dan vir hulle album, dit word ontwerp en dan lewer ek die album saam met ’n USB-stokkie af."

  • Die kliënte met wie Huisgenoot gepraat het, wag egter steeds op hul video’s en foto’s.
*Skuilname