Arno, wat die karakter Benjamin le Roux in Isidingo speel en Herman Mouton in Die Boekklub was, beweer egter dit was nie hy wat die twiets die kuberruimte binnegestuur het nie.

“So moeg vir bloedsuiers en vals vriende, ek wil sterf. Moet nooit dink jy ken iemand nie, want in die meeste gevalle (ken jy hulle) nie,” is een van die vlaag woedende twiets wat vanaf Arno se Twitter-profiel gestuur is.

Die twiets is sedert tweeuur Dinsdagmiddag getwiet.

“My foon was by ’n sogenaamde vriend wat my misbruik het en gemors op my Twitter gesit het. Ek sit sonder vriende vandag en vat geen verantwoordelikheid vir die nonsens wat daar gesê is nie,” het Arno by navraag oor die twiets aan Huisgenoot gesê.

Ek het hom twee dae terug ontmoet en hy het soos ’n nice mens gelyk.

“Ek het dit glad nie self getwiet nie en stem glad nie saam met die twak wat hy daar kwytgeraak het nie.”

By navraag oor wie die vriend is sodat Huisgenoot hom ook kan nader vir kommentaar, het Arno geantwoord: “Ek het sy nommer delete van my foon af. Ek het hom twee dae terug ontmoet en hy het soos ’n nice mens gelyk.”

“Hy het my na ’n partytjie genooi en my aan ’n meisie voorgestel. Ek het ook vir hulle vertel ek het ook al vriende gehad wat my in die rug gesteek het en my misbruik het, en toe deel ek van my persoonlike goed met hom.

"Ek was besig om buite met haar te gesels en my foon was in die huis. Lyk my hy het baie haat in hom en lyk my hy het my nodig gehad om dit uit te leef.

“Ek is al ’n hele ruk op Twitter, maar ek sal iets twiet, iets positiefs hertwiet of so, en dit los vir ’n ruk. Ek is nie ’n ou wat 50 twiets in ’n ry opsit nie. Dit is nie wat ek doen nie.”

Toe Arno Dinsdagaand by die huis kom, het hy die twiets gesien en die man gebel om hom te konfronteer.

“Hy was dronk; so ek het toe net sy nommer uitgevee.

“Ek het hom gekonfronteer en in sy m*** gestuur omdat hy géén respek vir my as akteur het nie. Ek is in gesprek met my agent en sal vir seker later (hieroor twiet).”

Volgens Arno het die man ook die inskrywing op sy Facebook-blad gemaak waarin hy uitvaar teen vriende wat hom in die verlede misbruik het.

Arno sê hy was sedert eenuur Dinsdagmiddag by die partytjie.

'n Woordvoerder van Isidingo het gesê hulle kan nie kommentaar lewer oor die uitlatings nie.

Arno het die meeste van die woedende twiets Woensdagoggend uitgewis.