Jimmy Abbott
Jeanie Boshoff se broer, Kobus, is in 2005 deur Jimmy Abbott se neefs vermoor. Foto: Sharon Seretlo

Die dood van ’n geliefde legende; die heengaan van ’n boksikoon.

Toe Jimmy Abbott onlangs oorlede is, was dit die woorde wat wyd in huldeblyke en gesprekke gedeel is. En dit wás so.

Maar terwyl die res van die wêreld met goedige weemoed van dié voormalige swaargewigkampioen en lekeprediker afskeid geneem het, het die nuus van Jimmy se dood Jeanie Boshoff (69) se bloed laat ys.

“Die beeld van my broer se lewelose liggaam was glashelder,” beskryf sy die herinnerings wat skielik weer voor haar geestesoog opgeduik het. “Daardie wrede beeld wat so lank in my geheue ingebrand is.”

Jeanie se broer, Kobus Kleynhans, destyds bekend as akteur in 7de Laan, Arende en Sonkring, is 16 jaar gelede grusaam vermoor deur twee rowers wat hom so erg vermink het dat die meswonde selfs aan sy oë sigbaar was.

En toe dié twee rowers eindelik aangekeer is, het dit geblyk hulle het ’n bekende familielid: Jimmy Breedt en Harry Abbott was twee neefs van die boksheld Jimmy Abbott.

Waar ons vandag met haar gesels by haar huis op Heidelberg, in Gauteng, sê Jeanie sy weet Jimmy, wat op 21 Maart in die ouderdom van 61 oorlede is, was nie vir sy neefs se optrede verantwoordelik nie. 

Trouens, ná haar broer se dood het Jimmy met haar gesimpatiseer. 

Maar, sê sy, elke keer wanneer sy dié sagte reus se naam lees of sy gesig sien, word sy aan die dag in Julie 2005 herinner toe sy haar broer se moordtoneel moes besoek. 

Jimmy Abbott
Kobus se destydse begrafnisbrief. Hy was baie geliefd, veral onder sy medeakteurs, vertel Jeanie. Foto: Sharon Seretlo

Ou wonde opnuut oopgekrap

Dit was ’n koel winteroggend. Jeanie onthou vandag nog, helderder as ooit, die polisieman se oproep.

Die polisieman wou weet of sy Kobus Kleynhans se suster is. Hy het vertel hy het vroeër die oggend, 17 Julie 2005, by Kobus se huis in Newlands, Johannesburg, aangeklop om met hom te gesels oor ’n selfoondiefstal wat Kobus vroeër by die polisie aangemeld het. 

Toe die polisieman die huis ingaan, het hy haar broer in die hoofslaapkamer aangetref, met 56 mes- en skêrwonde aan sy lyf en ’n gapende wond aan sy agterkop.

“Ek sal nooit die beampte se woorde aan my vergeet nie: ‘Kom hierheen, maar moenie alleen kom nie.’”

Sy is reguit na Kobus se huis, onthou sy. Die skrikbeeld van haar broer se lewelose liggaam wat sy toe gesien het, bly haar vandag nog by.

“Die polisie wou nie hê ek moes ingaan nie, maar ek het my nie daaraan gesteur nie en is die huis binne. Daar was soveel bloed . . . Teen die muur, op die vloer, teen die kaste en die plafon. Kobus was so geskend – aan al die kneusplekke aan sy lyf kon jy sien hy het om sy lewe probeer veg. Selfs sy oë was ingesteek.”

Nou is Jeanie weer troosteloos.

“Hy was so verniel . . . my kleinboet, my ma se oogappel. Ek het net daar neergesak en gebid: Dankie, Here, ons ma en pa leef nie meer om dit te aanskou nie. Sy dood het my stukkend gelaat.”

“Ek sal nooit die beampte se woorde aan my vergeet nie: ‘Kom hierheen, maar moenie alleen kom nie.’”

Die twee moordenaars het met ’n paar elektroniese toestelle en Kobus se Mazda 626-voertuig gevlug en is enkele dae ná die moord vasgetrek.

Maar hoewel die moordenaars se name vir Jeanie onbekend was, het sy kort daarna verneem hulle het ’n beroemde familielid.

“Ek het destyds kort ná die moord uitgevind van die moordenaars se verwantskap aan Jimmy,” onthou sy. 

Sy het besluit om Jimmy te bel. “Ek wou hê hy moes weet hoeveel seer sy geliefdes vir ons veroorsaak het.”

Al wat Jimmy kon sê was dat hy ontsettend jammer is, maar dit was nie vir haar genoeg nie. Nie toe nie.

“Ek het geweet hy dra geen skuld nie – dat geen woorde my broer sou kon terugbring of die lyding kom wegvat wat hy moes ervaar het nie. Maar tog moet ek vandag erken: Ek kon nie help om bitterheid teenoor Jimmy te ervaar nie. Miskien was dit net sy verwantskap aan sy familie, al was dit nooit regverdig nie.”

Die voortslepende moordverhoor het haar bitterheid teenoor die familie destyds vererger, sê sy.

“Ek onthou ons het eenkeer in die hof gesit toe een familielid – ek is onseker wie – oor die moordtoneel-foto’s gesê het: ‘Sjoe, maar Jimmy (Breedt) het hom goed beetgehad.’  Dit het my verder verbitter.”

Jimmy Abbott
Jimmy is in Maart weens hartversaking oorlede. Foto: Facebook

Met die moordenaars self het sy nooit kontak gemaak nie. Sy wou nie hul “verskonings hoor nie” en het nie die moed gehad om hulle in die oë te kyk nie.

Hulle is eindelik tot lewenslange tronkstraf vir die moord gevonnis met ’n bykomende 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.

Vier jaar gelede, toe Jeanie en haar man, ook genaamd Kobus (80), na Jimmy se tuisdorp, Heidelberg, in Gauteng verhuis het, het dié oudbokser en -stoeier van sy kant af na haar uitgereik.

“Hy was opnuut jammer oor die hel wat sy familie vir ons veroorsaak het,” onthou Jeanie vandag van haar gesprek met Jimmy. “Ek het dinge aanvaar. Hel, ek het myself selfs oortuig ek het met my lewe aangegaan. 

“Toe ons hier in die huis op Heidelberg ingetrek het, het ek die boks met al die koerantknipsels en selfs die foto’s van die moordtoneel onder ’n boom gaan brand. Ek het alles opgeskeur terwyl ek snikkend en skreeuend – en finaal – van hom wou afskeid neem. Ek het gedink dis verby.”

Maar toe kom die nuus: Jimmy Abbott is dood.

“Dit was asof die rou smart weer na die voorgrond keer. Skielik ervaar ek weer die seer en verlies asof dit net gister was.”

Om aan te beweeg

In die huis in ’n stil straat op Heidelberg wat Jeanie, ’n berader, deel met haar man, Kobus, ’n prokureur, moet sy met die vlak wonde saamleef. Wanneer sy die laaste paar dae na foto’s van haar broer kyk, maak dit opnuut seer. Ou TV-programme waarin hy gespeel het, bring nie teer herinnerings na vore nie – net smart en pyn.

“Kort nadat Jimmy dood is, het ek talle oproepe van familie gekry wat by my wou weet: ‘Is jy oukei?’ Die antwoord was: Nee, ek is nie oukei nie. Want vandag, 16 jaar later, skeur sy dood ou wonde oop.”

Die trane vloei weer oor haar wange. “Ek weet hoe wreed dit is wat ek sê,” erken Jeanie. “Ek weet daar is honderde van sy geliefdes wat oor sy dood rou – oor die man en vir wat hy vir soveel beteken het. Hy was skuldloos, maar ek sal hom altyd met my broer se moordenaars verbind.”

Sy is na Jimmy se begrafnis genooi, vertel Jeanie. Hy is op 26 Maart vanuit die AGS Kairos, Heidelberg, begrawe.

“Ek het bloot nie kans gesien nie. En nou, vandag, wonder ek opnuut of dit tog die hoofstuk sou afsluit, eerder as wat die wonde nou weer rou en oop is.

“Ek besef nou daar is nog verwyte en seerkry wat ek van my moet afgooi. Ek weet ek moet dit verwerk en eindelik met my lewe aangaan – en dis presies wat ek van hierdie punt af vorentoe gaan doen.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe