Sy gaan binnekort na ’n beskermingshuis geneem word. Na verneem word het die polisie reeds begin met 'n poging om haar ma op te spoor. 

Die pasgebore “wonderbaba” het gister menige hart geroer toe foto’s op sosiale media gedeel is waar reddingswerkers in Newlands East vir drie ure lank onverpoos gespook het om haar uit die pyp te red.

Niemand weet presies hoe lank sy in die stormwaterpyp vasgesit het nie, maar dokters glo dit was vir ongeveer vyf ure. 

Verbygangers het Maandagoggend gehoor hoe ’n babatjie in die pyp huil en toe die owerhede ontbied. 

Nooddienswerkers kon tydens die reddingspoging deurentyd die baba hoor huil. Die gebied is afgesper terwyl lede van die brandweer haar uit die pyp probeer bevry het. 

’n Helikopter was op die toneel om haar net ná 10:00 na die Albert Luthuli-hospitaal te neem. 

Daar is sy warm gehou en skoongemaak. Sy het geen ernstige beserings opgedoen nie. 

Agiza Hlongwane, woordvoerder van die departement van gesondheid in Pietermaritzburg, het aan Huisgenoot bevestig die meisie is stabiel en is vanoggend na ’n ander hospitaal oorgeplaas. Sy sal binnekort na ’n beskermingshuis geneem word terwyl owerhede haar ma probeer opspoor.