Maar min kan hulself indink wat Genevieve (42) en haar man, Marc Adams (43), tydens haar swangerskap moes deurmaak. 

Om swanger te raak was ook nie so maklik vir dié egpaar nie.

“Ná ses jaar, drie verskillende ginekoloë en vrugbaarheidsklinieke, drie kunsmatige inseminasies en ’n operasie aan haar buis wat geblok was, twee jaar by Tygerberg-hospitaal, ’n kruiedokter, geloofsgeneser en sielkundige het ons eindelik opgegee,” vertel Marc van Stellenbosch. 

Hy en Genevieve het besluit om vir in vitro-behandeling te spaar en weer vanjaar te probeer.

“In die begin van Julie 2019 het my vrou gekla van ’n pyn op haar blaas. Sy het citro-soda geneem en gedink dis seker ’n blaasinfeksie,” vertel Marc.

Maar toe daar bloed op die bed was, het sy ma vir Genevieve dokter toe gevat. “Toe ek van die werk afkom, het Genevieve my ’n positiewe swangerskaptoets gewys.”

Maar Marc het haar eers nie geglo nie.

“Ons dokter het gesê ons moet hospitaal toe. Ek het haar steeds nie geglo nie, want daar was te veel negatiewe faktore vir bevrugting om te gebeur,” vertel Marc. 

“My bruikbare spermtelling moes meer as 2% wees en haar maandstonde was onreëlmatig, haar eierproduksie was te min en onderontwikkel en sy het 'n buiging in haar buis gehad,” vertel Marc.

Maar by die hospitaal is die swangerskap bevestig toe Marc en sy vrou die hartklop gehoor het. 

’n Sonar is gedoen wat bepaal het die embrioniese sak het weens ’n infeksie geskeur. Dit het daartoe gelei dat die vloeistowwe uitgeloop het. 

“Dit het dit moeilik gemaak om die toestand van die fetus te bepaal. Die dokter het reëlings getref om my vrou oor te plaas na ’n ander hospitaal waar hulle beter toegerus was,” sê Marc.

By Netcare N1 is daar probeer om die infeksie onder beheer te kry en te kyk of Genevieve se liggaam meer vloeistowwe gaan maak. 

“As dit gebeur, sou dit beteken dat die baba langer in die liggaam kon bly groei en ’n beter kans op oorlewing het,” vertel Marc.

Sedert 20 Julie 2019 het die infeksie afgeneem en haar liggaam het self begin vloeistowwe maak.

“Op 31 Julie om 08:15 het ek ’n oproep gekry van my vrou wat huil. Sy het gesê ek moet haas hospitaal toe, want iets het fout gegaan en hulle moet die baba uithaal.”

Maar toe Marc om 08:50 by die hospitaal aankom, was sy vrou se hospitaalkamer leeg.

“Een van die verpleegsters het my gesê die infeksie het oornag teruggekom en dat dit die fetus kan beskadig; hulle moes dus die baba uithaal.”

Genevieve was toe onder verdowing en die baba in die neonatale waakeenheid.

“Die verpleegster het my ’n vorm gegee om in te vul, insluitend die baba se naam.”

Maar dit is iets wat Marc en Genevieve toe nog nie bespreek het nie.

“Maar ek het ook nie geweet wat die geslag van die baba is nie. Ek het op Google gaan kyk na die top-10-uniseksname vir babas en ‘Riley’ was nommer drie,” sê Marc. Hy het toe op dié naam besluit.

“Toe die verpleegster die vorm kom haal, het sy gesê dis ’n meisie.”

Riley se toestand was kritiek, sê Marc.

“Sy was op 26 weke voortydig gebore, het 890 g geweeg, wat 'n goeie gewig was. Sy was ’n meisie en meisies is goeie vegters,” vertel Marc. 

Dae ná haar geboorte het sy steroïede ontvang sodat haar hart, longe en niere, wat almal onderontwikkel is, vinniger kon groei. 

Marc was ingelig oor al die dinge wat “fout” was met Riley en wat hulle in die toekoms kon verwag. 

“Dit was baie traumaties vir ons albei om hierdie lys te kry wat sê dat sy net ’n 46%-kans op oorlewing het. En dat sy leer- en ander gestremdhede kan hê.”

Hulle het baie gebid en gehuil, onthou Marc. 

“My vrou is ’n week later ontslaan en Riley was nog 42 dae lank in die waakeenheid.”

Genevieve het ook gesukkel om genoeg borsmelk te maak. 

“Ons moes later duisende rande betaal vir skenkermelk van die melkbank,” sê Marc. 

Intussen het Riley se toestand gestabiliseer en sy is na die Mediclinic Stellenbosch geskuif. 

Sy is gebore met 'n longafwyking, en sy het op 'n ventilator in die hospitaal gebly tot sy sonder hulp kon asemhaal. 

Na ’n maand by die hospitaal op Stellenbosch is Riley ontslaan. 

“Dit was nogal ’n aanpassing omdat sy op soveel medikasies en prosedures was, insluitend ’n asmapomp wat twee keer per dag toegedien moes word.

baba
Baba Riley toe sy nog in die hospitaal was. Foto: Verskaf

Sy vaar nou baie beter, sê Marc.

“Sy weeg nou 8 kg. Ons is regtig geseënd om so ’n mooi en nou gesonde baba te hê danksy die ongelooflike dokters en verpleegsters by Mediclinic en Netcare. Hulle het haar hanteer en na omgesien asof sy hul eie bloed was,” sê Marc.

Dit gaan ook nou baie goed met Genevieve.

“My wonde is genees, maar dit het ’n lelike merk gelos en die stres van die geboorte het ’n effek op my vel gehad, maar dit raak ook beter. 

“Riley se longe en hart het versterk en sy is af van al haar medikasie. Sy moet nou net haar masels-inspuiting ontvang,” sê sy.

“Sy is ’n baie vrolike baba, lag dat jy al haar tandjies kan sien, is altyd vriendelik en word wakker met ’n glimlag. Sy is baie bewus van haar omgewing, mal oor ons honde en ’n baie goeie en gulsige eter.” 

Vir haar verjaardag het hulle ’n drive-by-parade gehou omdat ’n partytjie weens die inperkingregulasies nie moontlik is nie.

baba
Baba Riley en haar ouers, Marc en Genevieve Adams vier hul eersteling se eerste verjaardag. Foto's: Verskaf

“Familie en vriende het tussen vier- en seweuur by ons huis gestop. Ons het plakkate en ballonne voor die huis gehad. Hulle het hul toeters geblêr terwyl ons pakkies met lekkernye soos cupcakes met haar gesiggie op en chocolate eclairs uitgedeel, maar ook social distancing behou het,” het Genevieve oor hul dogtertjie se eerste verjaardagvierings vertel. 

Baba Riley en haar ouers, Marc en Genevieve Adams vier hul eersteling se eerste verjaardag. Foto's: Verskaf
baba
Baba Riley en haar ouers Marc en Genevieve Adams. Foto: Verskaf
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe