Sy was die smeulende internasionale swem- en onderkleremodel; hy ’n hardwerkende sakeman wat sy familie se supermark in ’n Vrystaatse mynstad help bedryf het.

Ná ’n onwaarskynlike sprokiesromanse wat tussen die winkelrakke begin blom het, is hulle op ’n boot in die See van Galilea in Israel getroud. Toe sy daarna tydens hul wittebrood in Mauritius swanger raak, was sy gereed om haar glanslewe agter te laat en aan haar gesin se geluk te bou.

Die afgelope sewe jaar het die voor­malige Wonderbra-model Lieschen Botes – nou Vieira – en haar man, Rogerio, ’n idilliese gesinslewe in Welkom gevoer. Sy as tuisteskepper en ma vir hul vyf kinders; hy as vennoot in sy familie se onder­neming, die Sylvania Superspar.

Lieschen toe sy nog ’n internasionale swem- en ond
Lieschen toe sy nog ’n internasionale swem- en onderkleremodel was. Foto verskaf

Familie was vir hulle belangrik; haar ouers het ook in die stad gewoon, en sy ouers was vir Lieschen soos ’n tweede ma en pa. Lieschen was nou deel van die Vieiras se groot, gelukkige, uitgebreide familie, en haar stralerjakkerleefstyl van stomende fotosessies was vergete.

Maar toe begin die terugslae dié bekende Welkomse egpaar tref.

Eers het Lieschen se pa, Kobus (60), verlede jaar aan kanker gesterf. En toe word hulle onlangs deur ’n dubbele tragedie getref: Rogerio se ma, Goretti, sterf aan ’n hartaanval en sy pa, Joe, kom op haar lewelose liggaam af. In ’n wrede misverstand dink Joe toe sy het haar eie lewe geneem deur ’n oordosis pille te drink – en toe skiet Joe homself dood.

Vir Lieschen (33) is die dood van haar skoonouers ’n week tevore net so verpletterend soos vir Rogerio (38). En in dié tyd van rou het die sterftes ander gevolge gehad: Dit het Lieschen se vorige lewe as super­model weer belig.

Dit was nie mý storie dié nie; dit was nie mý tragedie nie. Dit was my man se ma en pa; dit was my kinders se ouma en oupa.

Sy voel dis verkeerd dat berigte oor haar skoonouers se dood soveel klem op háár gelê het eerder as op hul eie dogter, Jacqueline Sousa (43), vertel Lieschen hier waar sy langs haar man in sy oorlede ouers se ruim huis sit.

“Die tragedie het skaars gebeur, toe is dit in die sosiale media. Die volgende dag was dit oral in die koerante. Al was ek ’n bekende model en was die kollig my lewe, was dit vir my sleg. Dit was nie mý storie dié nie; dit was nie mý tragedie nie. Dit was my man se ma en pa; dit was my kinders se ouma en oupa.”

Sy en Rogerio sit elk met een van hul tweeling van vier maande, Seichelle en Seigio, op die skoot. Hulle het nog drie kinders: Xavio (6), Xilvé (4) en Leila (2).

Dis vir die egpaar bitter hartseer dat die tweeling nooit hul grootouers sal ken nie.

“Ons sukkel nog om sin te maak van wat gebeur het,” sê Lieschen. “Dit is vir ons bitter moeilik.”

Die Vieira-familie bedryf al 44 jaar lank hul Welkomse supermark. Rogerio het 11 jaar gelede saam met sy ouers daar begin werk.

Lieschen en Rogerio

Ook Lieschen het in Welkom grootgeword. Maar nadat sy matriek aan die Hoërskool Goudveld voltooi en ál meer sukses as model behaal het, het sy na Kaapstad verhuis.

Die twee het mekaar in 2011 die eerste keer in die supermark in Welkom ontmoet. Ná ’n blitsromanse is hulle in Mei 2012 getroud. Lieschen was 26.

Dit was ’n groot besluit om haar loopbaan prys te gee, sê sy.

“Ek het altyd gesê ek gaan nie trou en kinders hê nie. Maar toe ek Rog ontmoet, was dit asof ’n deur oopgaan; ek was moeg vir alleen wees.”

Haar skoonpa het die huis gebou waarin die gesin skaars 200 m van Rogerio se skoonouers se woonkompleks af woon.

“Dit was vir my lekker om te weet ek bou my gesin in Welkom met my ma en pa wat hier is. Ons huwelik werk vir my; ek voel steeds ek is my eie mens. Ons albei hou van die gesinslewe en kinders.”

Op dié foto teen hul muur is die geliefde groot­ou
Op dié foto teen hul muur is die geliefde groot­ouers saam met hul ouer kinders, (van links) Xilvé, Leila en Xavio. Foto verskaf

Hulle het nie nog kinders beplan ná die koms van Leila (2) nie.

“Maar toe raak ek weer swanger. Ek was ontsteld, want ek was nog besig om Leila te borsvoed en toe vind ek uit ek verwag twee babas!”

Seichelle en haar boetie, Seigio, is op 31 weke gebore en moes hul eerste ses weke in die hospitaal deurbring. In dié tyd was hul familie hul rots.

“My skoonouers het ons bygestaan. My skoonma was my tweede ma,” vertel Lieschen. “Ons het elke dag met mekaar gepraat. En my skoonpa het gereeld die drie oudste kinders skool toe geneem.”

Rogerio se ouers, Joe en Goretti Vieira, by die ba
Rogerio se ouers, Joe en Goretti Vieira, by die babas. Foto verskaf

Rogerio vertel sy ouers was 47 jaar getroud en baie lief vir mekaar. Saam het hulle die familieonderneming help bou.

“My pa, sjoe, hy was ’n hardwerkende man en ’n vegter. Hy het groot gedroom. My ma was ’n eerlike, reguit mens. ’n Pragtige vrou.”

Maar die laaste maande van hul lewe was onstuimig.

“Daar was baie veranderings by die supermark. Groot opknappings; ons sakemodel het verander. Die druk was groot. My pa het alles met presisie gedoen en my ma kon dit nie altyd hanteer nie. Hulle het vasgesit, seker soos enige getroude paar,” vertel hy.

“Tog was hulle op hul gelukkigste saam.”

Die onderneming was nie die enigste stres­faktor nie. Rogerio vertel sy perfeksionistiese pa was omgekrap omdat die dagbestuur van sy woonkompleks glo die tuinwerker se rooster verander het. Net ’n week voor sy dood het Joe glo die tuinwerker aan die arm gegryp.

“Gerugte het toe begin loop dat my pa aangekla sou word.”

Joe se reaksie was om ’n prokureursbrief aan die kompleksbestuur te laat stuur. In dieselfde week het sy vrou, Goretti, ’n hartspesialis gaan sien. Stres oor die supermark en haar man se vete met die kompleksbestuur het vermoedelik ’n tol geëis, glo haar naastes.

“Daar was die hele week baie druk. My pa was iemand wat maande lank nie aan alkohol geraak het nie. Maar as die druk kwaai was, het hy soms ’n bottel whisky gedrink, soos op Maandagaand 18 November,” vertel Rogerio.

Haar pille, waaronder kalmeerpille, was oor die kombuistoonbank gesaai soos sy daarna gegryp het.

Daardie nag het sy pa op die rusbank in die woonkamer aan die slaap geraak. En toe hy die volgende oggend, 19 November, wakker skrik en na die slaap­kamer gaan, het hy Goretti dood gevind.

Rogerio glo sy ma het in die nag verkeerdelik gedink sy kry ’n paniekaanval.

“Haar pille, waaronder kalmeerpille, was oor die kombuistoonbank gesaai soos sy daarna gegryp het.”

Later is bevestig sy is aan ’n hartaanval dood en die vyf pille in haar maag was nog nie in haar stelsel opgeneem nie.  

Maar Joe sou nooit weet wat die ware oorsaak van sy vrou se dood was nie. Ook hý het die pille op die kombuistoonbank gesien – en toe gedink sy het doelbewus ’n oordosis geneem.

“Hy was histeries toe hy my bel. ‘Rogerio, Mamma is dood,’ was sy woorde.”

Dit was omstreeks agtuur die oggend. Rogerio was by die supermark. Lieschen was tuis en ook gespanne, want sy en die tweeling moes tienuur daardie oggend op Kroonstad, sowat 75 km van Welkom, wees vir hul inentings. Dit was ’n afspraak wat sy reeds ’n paar keer nood­gedwonge moes uitstel.

Rogerio vertel toe hy by sy ouers se huis kom, was sy pa steeds besig om vir sy ma mond-­tot-mond asemhaling te gee, “maar toe ek haar pols voel, het ek geweet sy is reeds weg”, vertel hy.

Ek het vir die ambulansvrou gevra om na my pa om te sien; ek het iets dringends om te doen. Ek het nie eens vir my pa tot siens gesê nie.

Hy sê sy pa was oortuig sy ma het haar eie lewe geneem weens die spanning oor die woonkompleks. Joe het toe na buite gestorm, op ’n buurman geskree en ’n hou na hom gemik, maar misgeslaan.

Dit het Rogerio laat besluit om sy pa se vuurwapen te vat, want hy kon sien sy pa is onstabiel. Hy het dit in die supermark se kluis gaan toesluit.

Toe die ambulanse opdaag, was Rogerio se volgende gedagte by Lieschen.

“Ek het vir die ambulansvrou gevra om na my pa om te sien; ek het iets dringends om te doen. Ek het nie eens vir my pa tot siens gesê nie,” sê Rogerio.

Lieschen het die ambulanse by haar skoonouers se woonkompleks sien inry.

“Ek het vreemd genoeg gevoel my skoonma het dalk iets oorgekom,” onthou sy.

Met die kinders in haar bussie, gereed vir die rit na Kroonstad, het sy hulle in hul huishulp se toesig gelos en gou na haar skoonouers se kompleks gestap. By die ingang het sy Rogerio in sy bakkie sien uitry.

“Ek het vir Lieschen gejok en haar vertel dis my pa; hy was dronk en het geval,” hervat Rogerio die storie. “Ek het geweet as ek vir Lieschen sê my ma is dood, sal sy nie vir die inentings gaan nie.”

Hy het in sy verwarde toestand besluit om saam met haar en die kinders Kroonstad toe te ry.

“Dit was nie die plan nie. Maar ek het pas my ma verloor; ek wou nie een van my kinders ook verloor nie.”

Rogerio raak emosioneel en Lieschen vertel verder: “Hy het my eers buite die stad die waarheid vertel. Dit was vir my baie erg, soos om my eie ma te verloor.”

Maar hulle sou nie toe kon dink dat nóg ’n skok wag nie.

Nadat die tweeling hul inentings gekry het, het die paar hulle terug na Rogerio se ouers se woonkompleks gehaas. Met hul aankoms, omstreeks elfuur, was dit ’n chaos. Daar was polisiemotors en huilende familielede buite.

Rogerio het aangeneem hulle was daar oor sy ma se dood en wou na binne gaan om sy pa te ondersteun. Lieschen het by die kinders gebly.

“Familie het na my gekom en aanhou vra: ‘Waar is Rogerio se vuurwapen?’ Ek kon nie verstaan hoekom nie.”

En by die voordeur het polisiebeamptes Rogerio voorgekeer. Sy oom het hom toe meegedeel: “Rog, jou pa is dood.”

Dit was skaars drie uur nadat Joe sy seun gebel het met die skokkende nuus oor sy ma se dood.  

Hul gedenkdiens is onlangs in Welkom gehou.
Hul gedenkdiens is onlangs in Welkom gehou.

Joe het sy lewe geneem in die tuiskantoortjie waar hy saans gewerk het. Rogerio het wel sy pa se wapen gevat voor hy Kroonstad toe is, en toe die polisie by die huis opdaag ná Goretti se dood, het hulle veiligheidshalwe die huis vir wapens deursoek en niks gekry nie. Maar daar was nog ’n wapen in die huis: Goretti s’n, toegesluit in dié kantoortjie.

Terwyl Rogerio en Lieschen op pad terug was van Kroonstad, het Joe gesê hy wil gou iets binne gaan doen.

In die kantoortjie het hy gekniel, Goretti se rewolwer onder sy ken gedruk en die sneller getrek.

“Hy was op sy knieë om te bid,” sê Rogerio.

Ek blameer myself nie. Ek dink God het my uit die situasie verwyder.

Adelino, Goretti se broer, was eerste by Joe se lewelose liggaam.

Jacqueline, wat ná haar ma se dood saam met haar man, Roberto, van Klerksdorp af deurgery het, het ineen­gestort toe sy hoor haar pa is ook dood.

“As ek daar was, sou hy dit nie gedoen het nie. Hy was in donkerte gehul,” sê Rogerio. “Ek blameer myself nie. Ek dink God het my uit die situasie verwyder.”

Ro­gerio en Lieschen probeer nog sin maak van sy o
Ro­gerio en Lieschen probeer nog sin maak van sy ouers se onlangse skielike afsterwe. Foto: Onkgopotse Koloti

“Ek was so oorweldig deur skok en ook deur Rog se hartseer; niemand kon naby my kom nie,” sê Lieschen.

Sy weet dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.

“Ek kon vrede vind oor my pa se dood weens kanker. Oor dié storie het ek nie vrede nie. Rog se ouers was immers ook mý ouers.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.