Die tienjarige Shamba moes doodgeskiet word om sy eienaar se lewe te red. Mike is steeds in die hoësorgeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg.

“Mike het massiewe, diep bytmerke aan sy hele lyf," sê die familiewoordvoerder, Bernadette Maguire. "Die wonde is nog nie toe nie, want die dokters is bang vir infeksie. Hy sukkel ook om te eet, want sy kakebeen is gebreek."

Sy sê dokters is verbaas Mike het die aanval oorleef. “Dis ’n wonderwerk."

Shamba het Mike Saterdag aangeval ten aanskoue van gillende toeriste op besoek aan die Marakele-roofdiersentrum buite Thabazimbi in Limpopo. Luidens berigte het hy die kamp binnegegaan om ondersoek in te stel na ’n vreemde reuk.

Shamba was besig om weg te loop na die ander kant van die kamp toe Mike dit binnegaan. In die video kan gesien word hoe Mike na iets op die grond skop. Die volgende oomblik besef hy hy is die moeilikheid toe Shamba op hom afstorm.

Mike kan nie die hek betyds oopkry nie. Die maanhaar sleep hom soos ’n weerlose lappop die bosse in. Deurentyd smeek hy om hulp terwyl die geskokte toeskouers freneties na ’n skietding soek om Shamba te verjaag.

Shamba is luidens berigte kort ná die voorval van kant gemaak.

WAARSKUWING: GRAFIESE VIDEO

Mike, die eienaar van die Marakele-roofdiersentrum, het Shamba met ’n bottel grootgemaak. Hy sukkel om sy geliefde leeu se dood te verwerk.

“Hy moet nog tot verhaal kom," vertel Bernadette.

Lion predator park #lovesoutharica #lions #thabazimbi #marakelepredatorpark

A post shared by Petro Eloff (@petroeloff) on

"Hy en Shamba was baie geheg aan mekaar en Shamba het altyd baie liefdevol teenoor hom opgetree." Tog sê sy Mike was terdeë bewus van die risiko’s verbonde aan werk met diere. 

Mike en sy vrou, Chrissy, het in 1999 uit Engeland na Suid-Afrika gekom en in 2003 met die roofdiersentrum begin. 

Twitter reageer