Dié belowende jong speler en kaptein van Hoërskool Louis Trichardt se o.16-rugbyspan is nou al twee weke lank by die huis en hy is Maandag ook terug skool toe. 

“Dit gaan goed met hom en hy is baie positief,” het Koben se pa, Trompie Hofmeyr, aan Huisgenoot gesê.

“Hy vorder goed by die skool en die kinders dra hom op hul hande. Ons is baie dankbaar vir elke dag se vordering.”

Koben is in Junie na die Mediclinic Muelmed-hospitaal in Pretoria se rehabilitasiesentrum oorgeplaas nadat hy vir amper ’n maand lank in dié hospitaal opgeneem is. 

Hy het tydens sy verblyf in die rehabilitasiesentrum baie goeie vordering getoon en kon in Augustus ’n naweek tuis deurbring. 

“Toe ons hom die Sondagaand na die rehabilitasiesentrum terugneem, het die dokters ons laat weet hy kan binnekort permanent huis toe kom. Ons was onkant betrap, want ons het dit glad nie verwag nie, maar ons was baie opgewonde,” het Trompie gesê.

Dit is nou Koben se tweede week by die huis en volgens Trompie gaan dit baie goed met hom. “Ons bure het vir hom ’n loopraam geskenk en hy het daarmee begin loop. Ja, sy boudspiere is verantwoordelik vir die loopproses en al is dit nog nie vir hom moontlik om die spiere te gebruik nie, gebruik hy sy heupe om sy bene vorentoe te beur.” 

Kyk die video hoe hy die loopraam gebruik hier:

Koben se C4- en C5-nekwerwels is in die wedstryd teen Hoërskool Warmbad in Bela-Bela beseer en sy C6-nekwerwel is ontwrig nadat hy ’n ander speler geduik het.

“Die medici wil nie veel sê oor of hy weer sal kan loop of nie, maar ons glo vas hy sal. Toe hy die besering opdoen, is daar vir ons gesê om die ergste te verwag, maar God se genade is baie groot.”

Trompie glo dit is sy seun se positiewe houding wat hom sterk maak. “Al gaan hy nou deur hel, glo hy vas sy eindbestemming is om weer te kan loop. Hy sien die prentjie agter die berg en ons kan die wonderwerk, wat God in sy lewe gedoen het, elke dag sien.”