Rudolf Kellner
Haar wêreld het amper in duie gestort toe sy hoor van die grusame ongeluk wat so byna haar broer se lewe geëis het, vertel Caroline Kellner (23). Rudolf (21) het wonderbaarlik oorleef. Foto: Verskaf

’n Lang en seer herstelpad lê vir Rudolf Kellner voor nadat hy verlede week in ’n grusame ongeluk buite Hoopstad in die Vrystaat was, en vir sy geliefdes is dit ’n wonderwerk dat hy dit oorleef het.

Dit het gevoel of haar wêreld in duie stort toe sy die oproep ontvang oor dié ongeluk wat so byna haar broer se lewe geëis het, vertel Caroline Kellner (23) van Potchefstroom in Noordwes.

Haar broer, Rudolf (21), was verlede Maandag (24 Mei) op pad na ’n plaas net buite Hoopstad waar hy sou gaan kyk na ’n vragmotor wat hy wou koop, vertel Caroline. Hy besit ’n vervoerbesigheid wat die landbougemeenskap van dié dorp dien.

Caroline sê Rudolf het op ’n ongelyke stuk grondpad beheer oor sy Isuzu-bakkie verloor voordat die voertuig in ’n boom vasgeploeg het. Hy was ernstig beseer, maar kon daarin slaag om self hulp te ontbied.

“As mens na die foto’s van die wrak kyk en na my broer se beserings, weet ons dis ’n wonderwerk dat hy leef,” sê Caroline Maandag aan Huisgenoot.

“Rudolf het meer as ses breuke aan sy gesig, en sy regterbeen is op twee plekke gebreek. Daar is ook breuke aan sy sleutelbeen en knie. Die impak van die botsing kon noodlottig gewees het.” 

Caroline sê nooddienswerkers moes lank stoei om Rudolf uit die motorwrak te bevry. Hy is daarna na die provinsiale hospitaal op Hoopstad gehaas waar hy gestabiliseer is en toe oorgeplaas is na die Welkom Mediclinic-hospitaal.

Rudolf Kellner
Die wrak van Rudolf se Izuzu-bakkie. Foto: Verskaf

Volgens haar het dokters gevrees dat hulle Rudolf se regterbeen sou moes amputeer.

“Die skade aan sy been was so erg dat dokters nie gedink het daar is ’n manier om sy been te red nie. Die hele familie het ’n gebedsketting gevorm en gebid soos nog nooit voorheen nie – alles in die hoop dat ons goeie nuus sou ontvang.

“Dokters het toe ’n tweede stel toetse op aandrang van my oom, Riaan Jacobs, gedoen en bepaal ’n amputasie is nié nodig nie. Ons was baie verlig,” vertel sy.

Rudolf moes benewens die operasie aan sy been ook geopereer word aan sy gesig, arms en sleutelbeen. Hy is intussen vanuit die intensiewesorgeenheid geskuif na ’n gewone saal.

Die ergste vir haar, vertel Caroline, is dat sy eers twee dae ná die ongeluk gehoor het hoe naby haar broer aan die dood gekom het.

Rudolf Kellner
Rudolf in die hospitaal saam met sy oom en tannie, Riaan en Analize Jacobs. Foto: Verskaf

“Ek het die Maandag van sy ongeluk met die Otter-staproete in die Tsitsikamma Nasionale Park weggeval. Die staproete vat gewoonlik vyf dae en daar is min tot geen selfoonopvangs nie. Teen Woensdag het van die stappers voor ons laat weet daar is selfoonopvangs en dis tóé dat die nuus eers by my uitkom,” onthou Caroline.

Die slegte tyding het haar geruk, sê sy. Dit was nie eerste keer wat ’n tragedie haar naastes getref het nie.

Trouens, hulle kén die slae van die lewe . . . 

“Ons ma en pa is albei dood toe ons maar nog baie klein was. Ons het as laerskoolkinders by my oupa en ouma gaan woon, maar my oupa is ook dood voor ons klaar was met die laerskool en my ouma is dood toe ons albei klaar is met skool.

“Dit was maar ontsettend erg. En toe dié verskriklike ding met my boetie gebeur, kon ek nie help om te wonder hoekom die tragedie ons aanhou tref nie,” sê Caroline bewoë.

Rudolf Kellner
Daar is in hierdie stadium nog onsekerheid oor lank Rudolf se herstelpad sal wees – en of hy ooit weer sal kan loop. Foto: Verskaf

Die tragedie wat hulle al moes verduur, het haar en Rudolf ontsettend na aan mekaar laat groei.  

“Ek wil tog net nooit hê mense moet ons jammer kry nie, want ons het onsself nooit jammer gekry nie. Maar hy was altyd my rots.

“Ek is twee jaar ouer as hy en ek was op universiteit toe hy al begin werk het en hý was die een wat vir my kort-kort geld sou inbetaal om iets te koop. Dis ek en hy – nog altyd – en die gedagte dat ek hom sou kon verloor het, het my amper gebreek. Ek is dankbaar hy het oorleef.” 

Caroline kon haar nog nie by Rudolf aansluit nie, maar sal binnekort na Welkom reis waar sy en ander familielede na hom gaan omsien. Sy het nou ’n pleidooi namens Rudolf, wat nie ’n mediese fonds het nie, op Facebook gerig in die hoop om die kostes van sy hospitalisasie en operasies in te samel.

Rudolf Kellner
Rudolf ervaar nou baie pyn, maar sy droom al van die dag wat sy haar broer weer kan sien glimlag, sê Caroline. Foto: Verskaf

Die pad vorentoe is nog lank en waarskynlik vol hobbels, sê Caroline, maar sy en die res van haar familie bly hoop dat Rudolf ten volle sal herstel.

“Ons het ’n boekhouer aangestel wat met al die skenkings werk en ook die hospitaalrekeninge goedkeur en uit die hulpfonds betaal,” verduidelik sy.

“Die pad vorentoe is nog lank en onseker. Of Rudolf weer sal kan loop, weet ons nie, maar ons bly hoop en bid – by God is niks onmoontlik nie. My grootste hoop is dat hy weer sal loop en dat ek hom net weer te kan sien lag, nes in die ou dae.

“En ek weet ek sal.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe