Met haar geboorte was sy so groot soos ’n koeldrankblikkie en het sy net 440 g geweeg – minder as ’n blok botter. Die dokters het vir haar ouers gesê klein Ruaché – die kind op wie hulle meer as twee jaar lank gewag het – gaan dit nie oorleef nie.

Keer op keer moes Mari (30) en Johan Botha (37) toekyk hoe sy spook om asem te haal wanneer haar longetjies platval, hoe haar hartjie gaan staan, en hoe verpleegsters en dokters skarrel om dit weer aan die klop te kry. “Ek het ophou tel by 10 keer wat haar hart gaan staan het.

Die pediater het vir ons gesê ons moet ons regmaak vir die ergste. Toe ek en my skoonma sê ons sal bid, het hy gesê ons gaan ons God moeg bid,” sê Mari.

Dan voeg sy by: “Maar hier is ons vandag,” en sy vryf oor Ruaché se kaal koppie.

Want dit is kort voor die dogtertjie se eerste verjaardag, daardie dag wat niemand behalwe haar geliefdes gedink het ooit sal kom nie. En die gesin se vreugde is groot, want hulle vier dié dag in hul huis in Kempton Park.

“Ná 330 dae in die hospitaal is sy by die huis,” sê Johan, en vat sy vrou se hand. Die Bothas is die afgelope jaar deur diep waters. Mari se eie lewe het ook telkemale aan ’n draadjie gehang, en sy moes self drie maande in die hospitaal deurbring toe sy ná Ruaché se geboorte nierversaking opgedoen het. “Dit was hel,” sê Johan.

baba Ruache,Mari, Johan
Toe sy op 25 weke gebore is, was sy so groot soos ’n 19 weke oue babatjie en het sy net 440 g geweeg. Sy kon in die palm van haar pa se hand pas. Foto: Verskaf

“Ek wou nie huis toe kom nie. En ek het yskoud geword wanneer my foon lui, want bel die hospitaal my oor Ruaché of oor Mari? Maar hier sit ons al drie en ons is baie dankbaar.”

Haar ogies wil-wil toeval waar sy op haar ma se skoot sit op die gesin se rusbank. Ruaché het ’n kopband om haar kop wat byna so groot is soos sy, en haar wimpers is langer as die haartjies op haar kop.

Die mediese masjiene en pype staan die sitkamer vol, en op die agtergrond biep ’n masjien wat Ruaché se suurstofvlak monitor. Sy kan nog nie self asemhaal nie en, weens die pype wat maande aaneen in haar keel was, ook nog nie sluk nie. “Maar sy sal leer,” sê haar ouers ferm.

Die hekklokkie lui – iemand kom laai vir Ruaché ’n verjaardaggeskenk af, en Johan spuit ontsmettingsmiddel op die pakkie voor hy dit op ’n tafel in die sitkamer neersit. “Jy verjaar amper, nè, my bekkie?” sê Mari en gee Ruaché ’n soen op haar kop.

‘Ek het ophou tel by 10 keer wat haar hart gaan staan het’

Die coronaviruspandemie en die inperking maak die lewe eintlik tans ’n bietjie makliker vir die Bothas. Gewoonlik is hulle baie bekommerd oor hoe maklik Ruaché by iemand anders ’n kiem kan aansteek en kan siek word.

“Dit is moeilik om vir mense te verduidelik hoekom hulle haar nie kan optel of so nie. Sy kan so maklik siek word,” verduidelik Mari.

Ruaché se longe was nog nie volledig ontwikkel toe sy op 25 weke gebore is nie, en sy het nou ’n chroniese longsiekte, bronchopulmonêre displasie, wat veroorsaak dat sy nie self kan asemhaal nie.

Sy kry suurstof deur ’n pyp in haar tragea. Hoewel kinders nie dié siekte ontgroei nie, word die aangetaste deel van hul longe kleiner in verhouding tot die gesonde long.

In sommige gevalle word dié deel van die long verwyder en in ander moet die kind ’n longoorplanting kry. Die Bothas glo egter vas dat Ruaché teen die einde van dié jaar nie meer die pyp in haar lugpyp nodig gaan hê nie.

“Sy sit amper, so hopelik sit sy dan stewig – dalk maak sy dan al reg om te begin kruip,” sê Johan. Ruaché maak roggelgeluidjies waar sy op haar ma se skoot sit.

“Virginia, asseblief suig haar gou,” sê Mari vir Virgina Kunene, die privaat verpleegster wat die gesin bedags tuis help.

Omdat Ruaché nie self kan sluk nie, verstik sy soms aan spoeg en slym. Virginia gebruik dan ’n lang, dun pypie om van die slym uit Ruaché se lugpyp te suig terwyl Mari rustig aanhou praat.

Die egpaar, wat vanjaar ses jaar getroud is, het meer as twee jaar gesukkel om swanger te raak voor Ruaché se koms.

“Toe ek 16 weke swanger was, het die dokter gesê haar groei is vertraag. Daar was bloedklonte in die naelstring en daarom het sy nie al haar voeding ontvang nie,” vertel Mari.

baba Ruache,Mari, Johan
Ruaché is baie lief vir musiek. In die hospitaal het hulle haar daarmee kalmeer. Foto: Lubabalo Lesolle

Op 25 weke het die pediater gesê Ruaché se organe groei nie meer nie en sy sou sterf as hulle haar nie dadelik uithaal nie. Maar, het hulle gewaarsku, die kans dat sy in ieder geval sal oorleef, is bitter skraal.

“Sy is op 15 Mei 2019 met ’n noodkeisersnee gebore, maar omdat sy so stadig gegroei het, was sy so groot soos ’n 19 weke oue babatjie,” vertel Mari.

Ná die keisersnee kon sy haar dogtertjie nie eens vashou nie. Daar is dadelik met Ruaché na die hoësorgeenheid by die Life Wilgers-hospitaal gejaag – en die volgende drie maande kon Mari ook nie vir haar gaan kuier nie omdat sy self te siek was.

Die dokters moes voor Ruaché se geboorte noodgedwonge vir Mari ’n verskeidenheid medikasie gee in die hoop dat die baba vinniger sal groei en dat haar longe genoeg sal ontwikkel om self asem te haal. Maar dié medikasie het Mari se niere beskadig.

“Ons het gehoop dit sou herstel,” sê Johan, ’n opgeleide paramedikus. Maar toe is Mari amper dood toe een van haar niere dae ná die geboorte inwendig begin bloei.

“Ek het eenuur die oggend ’n oproep van die hospitaal gekry. Die eerste keer toe hulle bel, het ek nie eens geantwoord nie, want ek was bang hulle sê vir my een van hulle is dood . . .” onthou hy.

Hulle kon die bloeding stop, maar Mari se niere het permanente skade gely. “My mediese brein het vir my gesê: ‘Kyk na die feite; maak jouself gereed – een van die dae hou jy twee begrafnisse.’ Maar dan het ek net nog harder gebid,” sê Johan.

Mari ontvang nou twee keer per week dialise, en sy sal ’n nieroorplanting moet kry. “Maar ons is geseën,” voeg sy haastig by.

Ondanks die daaglikse 50 km-rit na die hospitaal in Pretoria en die emosionele spanning van die afgelope jaar het Mari haar eie onderneming op die been gebring – ’n kultuurskool waar sy kinders drama, skryfkuns, fotografie en sang leer.

Dié klasse is tans gestaak weens die inperking. Ruaché lê nou op haar pa se skoot, vas aan die slaap. ’n Klein handjie met lang vingers hou sy hemp styf vas.

“Sy sukkel om geluidjies te maak met die tragea, maar sy gesels eintlik lekker. Ek en sy gesels soms ’n hond uit ’n bos uit.” Hy kyk vir Mari. “Onthou jy toe sy nog in die hospitaal was, het ek jou vertel sy het so met my gesels?”

Toe ons foto’s in Ruaché se kamer gaan neem, moet al die masjiene en pype wat aan die klein lyfie gekoppel is saam.

baba Ruache,Mari, Johan
Ruaché se kamer is pienk, en bo haar kot hang ’n foto met geskrewe gebede vir haar van geliefdes en vreemdes. Foto: Lubabalo Lesolle

“Dit is moeilik, want ons wil so graag weggaan vir ’n naweek, maar al die masjiene sal nie in die motor pas nie. Ons sal ’n sleepwa moet hê en ons het nie ’n haak nie,” verduidelik Johan.

Teen die kamerdeur is die reëls. “Was jou hande; moet haar nie sonder haar ouers of ’n verpleegster optel nie; as jy wil hoes of nies, loop asseblief weg . . .”

Dié reëls was al voor die coronaviruspandemie op die deur geplak. “Vir haar verjaardag gaan ons ’n virtual partytjie hou – ’n isolation celebration. Al ons vriende en familie kan Ruaché dan op video sien, en ons sal ’n bietjie mense se vrae beantwoord nadat ons kersies doodgeblaas het,” sê Mari.

En wat is hul toekomswens vir hul kleinding? “Dat sy klavier leer speel; kyk net daai lang vingers,” sê haar trotse ma.

“Sy is vreeslik lief vir musiek. Wanneer sy seer of ongemaklik was in die hospitaal, was dit al wat haar kon rustig maak. Dié lyfie van ons gaan nog berge versit, op háár manier.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.