Vallei van die bitter heuning. Dis die betekenis van die Khoiwoord Goudini, soos Rawsonville eens genoem is.

“En dis presies wat hierdie dorp ons gegee het – die swaar én die soet,” sê die akteur Pedro Camara, wat destyds as die vurige Carlos Perestrelo in 7de Laan-kykers se hart ingekruip het.

Dis die plek waar sy geliefde pa vermoor is – en waar sy wonderwerk-laatlam eindelik ná jare se pynlike afwagting gebore is.

Klein Zani het onlangs die lewenslig aanskou nadat Pedro (53) en sy vrou, Petra (46), ’n lang stryd teen onvrugbaarheid gevoer het en drie miskrame, drie in vitro-behandelings en vyf kunsmatige inseminasies moes deurmaak.

Maar hier, tussen die wingerde en vrugteboorde van hierdie dorp in die Breëriviervallei, het sy hul lewe nou vol gemaak. “My pa sou haar opgevreet het,” sê Pedro.

“Hy’t gewoonlik ’n kleinkind opgetel en vir tot ’n uur met hom verdwyn. Hy het die kind in die lug op gegooi; in sy gebroke Afrikaans gepraat . . . Dis ’n groot gemis dat hy haar nie sal ken nie.”

Sy pa, Abel Camara, hul Afrikaans-Portugese familie se “kragprop”, soos Pedro hom noem, is wreed uit die lewe geruk nadat rowers hom op 29 Desember 2007 in sy taverne op Rawsonville oorval en met ’n swaarkalibervuurwapen doodgeskiet het.

Pedro se pa, Abel Camara, is einde 2007 wreed uit hul lewe geruk. Foto: Verskaf

Hy was 67.

Pedro het ten tyde van sy pa se dood in Durbanville gewoon, maar sewe jaar gelede saam met Petra teruggetrek na die dorp waar hy toe, soos sy pa, ’n sakeman geword het.

Die oudakteur vertel hy en sy broers, Fedrico (45) en Silivino (52), het laer getrek om ma Driekie (73), wat steeds in die gesinshuis woon wat sy gedeel het met haar “ou maatjie, my all and everything”, soos sy hom steeds noem, tot Abel ná ’n huwelik van 45 jaar vermoor is.

Die vyf mans wat vir sy dood verantwoordelik was, is lewenslank tronk toe gestuur; die jongste het al om parool aansoek gedoen.

“Dit ruk weer die wonde oop,” sê Pedro, “maar wanneer mense vra, sê ek ons is ’n gewonde familie wat aan die genees is. Petra het my vergewensgesindheid geleer.”

En noudat daar ná die lang gewag ’n nuwe asempie in die familie is, is dit asof lewenshoop opnuut voortleef. Dis met die grootste verwondering en dankbaarheid dat Pedro sy babadogtertjie by sy vrou aanvat waar ons in hul huis op die dorp gesels.

Die liefde verkreukel sy gesig in ’n glimlag toe hy in die gesiggie afkyk. So byna was sy arms vandag leeg. Toe Pedro en Petra in 2010 trou, het hulle geweet hulle wou saam ’n kind hê. ’n Jaar ná hul troue het sy (toe 39) swanger geraak, maar op ses weke die baba verloor.

Sy het byna dadelik weer verwag, maar nog ’n miskraam gehad. Toe Petra 40 word, het haar ginekoloog voorgestel die Camaras ondergaan vrugbaarheidsbehandeling. Vyf kunsmatige inseminasies en drie in vitro-behandelings het gevolg. Die maande het jare geword en die gewag ’n diepe seer.

In 2014, met haar derde swangerskap, het Petra op ses weke weer ’n miskraam gehad. “Ek was moedeloos, maar het positief gebly omdat Petra se hoop so sterk was,” sê Pedro.

“Ek het daardie hoop van die Here gekry,” voeg Petra by. “Ek het geweet waar my hoop is en is in ons kerk gedra.”

Haar oë swem in die trane toe sy terugdink. Pedro vat liggies aan haar arm en kyk na haar toe hy sê: “Jou integriteit en onverbiddelike deursettingsvermoë het my laat bly glo al gebeur daar ook niks.”

Dan vertel hy verder: “Ek het al vrede daarmee gemaak en haar daaraan herinner ons het mekaar gekry; enigiets anders is ’n bonus.”

Tog het die twee in gebed volhard vir ’n wonderwerk.

In 2016 was hulle in die Urban Edge-kerk in Durbanville toe die pastoor preek oor die wonderwerk van die Bybelse Lasarus se opwekking en dat ’n mens moet dankie sê nog voor jy iets ontvang het. Dit het hulle dan ook gedoen.

Net daarna, tydens Pinkster, het hul dominee op Rawsonville ook oor wonderwerke gepreek. Toe hy kans gee vir voorbidding, het die Camaras vorentoe gegaan.

“Ons moes ons kwesbaar maak en vertel ons wil bitter graag swanger raak,” sê Petra.

“Dis asof almal hul hart oopgemaak het.”

Dorpenaars het vir hulle gebid en begin praat van “die kind”. Oral waar hulle gegaan het, het hulle bemoediging gekry. Met Paasfees verlede jaar het hulle op Robertson gekuier.

Zani slaap gelukkig reeds goed. Foto: Corrie Hansen

“Ons het gebraai en ontspan – en toe is daar ’n baie spesiale Paaseiertjie,” vertel Pedro met ’n laggie. Kort daarna het Petra haar dokter ’n swangerskapstoets gevra. “En toe is daar twee strepies op die stokkie,” sê Pedro en slaan sy hande saam.

Die mense van Rawsonville was ewe opgewonde.

“Dit was die gemeente se baba. Ons is selfs ná haar geboorte na die ouetehuis genooi om die geboorte saam met die inwoners te vier. Die tannies en ooms het die seën oor ons uitgespreek,” onthou Petra.

Die naam Zani het by Petra opgekom in die NG kerk Goudini hier op Rawsonville voor sy geweet het dit sou ’n dogtertjie wees. Toe sy die oggend ná kerk by die huis kom en die naam google, ontdek sy dis Hebreeus vir “gawe van God”.

“Dit het my rustigheid gegee sy sou oukei wees,” onthou Petra. “Toe Pedro op die sonar sien dis ’n dogtertjie, het sy lip lekker gebewe!”

“Ja, ek het woes gebuckle,” erken hy.

En op 4 Januarie is klein Zani toe in die Mediclinic Panorama in die Kaap gebore – piepklein en perfek, die wonderwerk waarop haar ouers so lank gewag het.

’n Trotse Pedro in die Mediclinic Panorama in die Kaap. Foto: Verskaf

Hoewel die nuwe baba in die huis haar ouers se lewe holderstebolder omgekeer het, het die pad van swaarkry hulle gebrei sodat hulle nou net in verwondering oor elke dag se seëning leef.

“Dis ongelooflik,” sê Petra, wat klaar weer so lenig is soos voor sy swanger geraak het.

“Soms is dit alles regtig eienaardig,” erken Pedro. “Ouens van my ouderdom fokus op hul loopbaan. Ek lyk darem nog jonk – goed opgepas en goeie gene!

“Zani het gewoontes verander, soos dat ek en Petra gereeld alleen gaan uiteet het. En sy het my ritme verander. Sy is die ekstra brake pads waar Petra net die briek was om my effens tot rus te bring.”

Sy 19-jarige seun uit ’n vorige huwelik, Enzo, het pas die huis verlaat om sielkunde en teologie aan die Cornerstone-instituut in die Kaap te studeer, maar is net so oorstelp oor sy nuwe sussie.

Pedro wys ’n WhatsApp van Enzo: Vandat ek klein was, is altyd vir my gevra of ek ’n boetie of sussie wou hê.

My antwoord bly ’n sussie. Daardie dag toe ek by die venster (in die hospitaal) staan en (haar) sien, het ek trane in my oë gekry toe ek sien hoe my pa my wonderwerksussie vashou.

Ek’t nie besef dis moontlik om so ’n klein dingetjie so lief te hê nie.

Ook Zani se twee oumas is deel van haar lewe. Ouma Driekie woon net om die draai en Petra se ma, Herna (73), trek een van die dae uit Darling hierheen.

Petra se pa, Danie, is 11 jaar gelede weens ’n hartaanval oorlede. “Al sal sy nie haar oupas leer ken nie, is daar iets van hulle in haar,” vertel Petra.

“Dis ’n troos.”

Want ná al die bitter het Rawsonville nou vir die Camaras ’n soete troosdorp geword.