Bridgette Jeena
Bridgette Jeena (38) het Dinsdagaand aan Huisgenoot vertel sy was verlede jaar vir 32 dae in die waakeenheid waar sy vir Covid-19 behandel is. Foto: Verskaf.

Bridgette Jeena (38), ’n onderwyser in Worcester in die Wes-Kaap, het Dinsdag aan Huisgenoot vertel sy het by die dood omgedraai, maar die bekommernis dat haar drie kinders sonder haar sal moet grootword, het haar die moed gegee om te veg.

“Ek het aan die poorte gaan klop. Die gesondheidswerkers in die waakeenheid was bekommerd hulle gaan my verloor. Die masjiene het twee keer afgegaan en hulle moes my terugbring.”

Bridgette sê die gesondheidswerkers in die Mediclinic in Worcester het nie gedink sy sal oorleef nie. Een van die gesondheidswerkers sê hulle het gedink hulle sal Bridgette in ’n “plastieksak uit die hospitaal dra.”

Bridgette vertel sy was 32 dae in die waakeenheid en kan min onthou van daardie tyd, maar sê sy was vir drie weke elke aand op n ventilator terwyl sy ook elke dag van n suurstofmasker gebruik moes maak.

Bridgette Jeena
Bridgette was vir 32 dae in die waakeenheid en moes aan masjiene gekoppel word. Die masjiene het in 'n stadium twee keer afgegaan en dokters moes haar weer bybring. Foto: Verskaf.

Sy is op 8 Junie 2020 opgeneem en is eers op 15 Julie 2020 ontslaan. Sy was die volle tydperk in die waakeenheid, behalwe vir die laaste vyf dae van haar hospitalisering.

Die gesondheidswerkers het haar vir daardie laaste vyf dae na ’n mediese saal oorgeplaas sodat hulle haar suurstofvlakke kon monitor voordat sy ontslaan kon word.

’n Fisioterapeut moes haar ook weer leer loop.

Sy kon tydens haar hospitaalbesoek glad nie praat nie omdat die dokters ’n pypie in haar keel moes druk sodat sy kon asemhaal. Bridgette moes briefies skryf indien sy wou “gesels”. 

“Ek het op ’n stadium ’n out of body experience in die waakeenheid gehad. Waar ek myself in die hospitaal kon sien lê.”

Bridgette Jeena
Bridgette verlaat die waakeenheid en word na 'n mediese saal geneem sodat haar suurstofvlakke gemonitor kan word voordat sy ontslaan mag word. Foto: Verskaf.

Dit was ook baie erg vir haar om te sien hoe mense in die waakeenheid doodgaan.

“Jy sien hoe mense om jou doodgaan. Ek kon sien daar word lyke uitgedra. En ek kon ook sien hoe mense in die waakeenheid ingebring word.”

Bridgette sê daar was n tyd toe sy gedink het sy sal nie lewend uit die hospitaal loop nie.

“Jy’s alleen in daardie saal. Jy ken nie die mense om jou nie. Jy kan nie jou familie sien nie. Ek was so moeg ek kon nie eers boodskappe beantwoord nie.”

Sy vertel sy was angstig toe die dokter vir haar kom sê dit gaan nie goed met haar nie.

“Die dokter het gesê dit gaan glad nie goed nie. My longe het nie goed gelyk nie en my suurstofvlakke het geval. Die dokter het kom sê hulle moet my opereer.”

Bridgette sê sy het baie gebid terwyl sy in die hospitaal was. Sy wou net n tweede kans hê en het God gevra om haar net nóg n kans te gee.

Bridgette Jeena
Bridgette saam met haar kinders Deyaan (14), Zahra (6) en Jainill (10). Sy sê die gedagte aan haar kinders het haar aan die gang gehou. Foto: Verskaf.

“Ek het by die venster gelê wat buitentoe kyk en my kinders kon eendag kom en vir my waai. Dit het my regtig opgekikker. Hulle het vir my stemgrepe begin stuur en vir my gesê om huis toe te kom. My kinders het vir my gesê hoe baie hulle my mis. Dit het my aan die gang gehou, want wat gaan van my kinders word? Dit het my baie bekommer.”

Hoewel Bridgette by die dood omgedraai het, laat sy nie dat dit haar onderkry nie en volhard sy steeds by die onderskeie skole waar sy werk.

Sy sê sy was angstig om ná haar herstel terug te gaan werk toe en hoewel een van haar longe erg beskadig is nadat sy covid-19 opgedoen het, is sy steeds aan die gang.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe