Dieter Grabie
’n Gedenkdiens word Vrydag vir Dieter Grabie gehou. Hy is ’n week gelede dood toe hy sy vriend teen aanvallers beskerm het. Foto: Verskaf

Dit het eintlik gelyk asof hy maar net rustig slaap, onthou Thelma Grabie oor die oomblik vroeër vandeesweek toe sy haar seun leweloos in ’n hospitaalbed sien lê het. 

Sy het gewéét hy leef nie meer nie, maar in ’n oomblik van emosionele verplettering het Thelma (48) aan haar seun se been gevat, hom geruk en huilend gesmeek: “Word wakker! Word wakker, asseblief, my kind!” 

Maar Dieter Grabie (21) het nie wakker geword nie.

Vroeër daardie aand, op 12 Februarie, het mediese personeel van die Brits-hospitaal in Noordwes die jong instandhoudingswerker dood verklaar. Hy is dood van ’n meswond aan sy bors nadat dokters ure lank vergeefs gespook het om interne bloeding te keer.

“My hart is in duisend stukke gebreek,” sê Thelma aan Huisgenoot. “Dit voel met tye asof ek heeltemal uitmekaarval. Ek het nie geweet dit is moontlik om soveel seer te ervaar nie.”

Dan sê sy: “Die ergste is die Here wou ons voorberei op ons kind se dood. Maar presies hoe dit sou gebeur en hoe wreed dit sou wees, sou ons nooit kon voorspel nie.”

Dieter Grabie
Dieter saam met sy beste vriend, Chris Malan. Foto: Verskaf

Chroniese miëloïde leukemie, ’n soort bloedkanker, is in Oktober verlede jaar by Dieter gediagnoseer

“Dit was asof sy kankerdiagnose aan ons wou sê: Omhels hom en wees lief vir hom, want sy tyd is min. Maar die dood is nie iets wat jy vierkant in die oë wil kyk nie – veral nie wanneer dit jou kind is nie,” sê sy pa, Dirk (49).

Al is daar soveel seer oor hul seun se dood, is daar een troos: Hulle seun het as ’n held gesterf, sê Dirk.

Sien jy, Boeta, ek het belowe niemand sal aan jou raak nie.

Dieter en sy vriend, Chris Malan, het Vrydagaand by ’n krieketklub in Brits gekuier. Die twee het laataand met ’n saamrygeleentheid na ’n vriendin se huis vertrek waar hulle verder sou kuier, maar toe die bestuurder op pad daarheen glo besluit om na Hartbeespoort te gaan, het hulle “in die straat” uitgeklim.

Chris se ma, Corné Odendaal, was op pad om die jong mans op te laai toe vyf mans op hulle toesak – glo vir hul selfone. Een van die mans het ’n mes na vore gebring in ’n poging om Chris daarmee aan te val, maar Dieter het hom weggeruk en is toe self gewond. Die twee het na ’n vulstasie gehardloop waar Dieter inmekaargesak het.

Dieter Grabie
Dieter het teen chroniese miëloïde leukemie, ’n soort bloedkanker, geveg ten tyde van sy dood. Foto: Verskaf

“My seun se laaste prewelwoorde aan Chris was: ‘Sien jy, Boeta, ek het belowe niemand sal aan jou raak nie.’ Hulle was al sedert hul skooldae vriende. Dieter het dit destyds aan Chris, sy beste pel, beloof.” 

Dit was Corné wat hulle ongeveer elfuur die aand gekontak het.

Thelma onthou: “Sy het net gesê: ‘Dieter is met ’n mes gesteek, kry my by die Brits-hospitaal.’” 

Sy begin onbedaarlik huil.

“Voor sy die oproep aan die anderkant van die lyn beëindig het, het ek haar nog hoor sê: ‘Kom, Boeta, hou net aan asemhaal.’ Ons het geweet dis ’n kwessie van lewe en dood.” 

Met hul aankoms by die Brits-hospitaal het dokters steeds gespook om bloed in Dieter se longe te dreineer. Die meswond het ernstige interne bloeding veroorsaak. 

Hulle het om eenuur die oggend die nuus ontvang: Dieter het dit nie gemaak nie.

Dieter Grabie
Dieter as ’n jong seuntjie. Foto: Verskaf

“Jis, tienduisend dinge gaan gelyk deur jou gedagtes,” onthou Dirk van die verpletterende nuus.

Die egpaar het gevra om hul seun te sien. In die kamer het ’n mediese personeellid die deken wat bo-oor Dieter getrek was van sy gesig gehaal. Dis toe dat Thelma in ’n emosionele oomblik haar seun gevra het om wakker te word.

“Al wat ek kon dink, is dat ek nie kans sien om my kind in ’n gat te begrawe nie,” vertel Thelma. “Dit het gevoel of ek self gewond is; of ek nie kon asemhaal nie.” 

Wie gee ’n ander mens die reg om ’n lewe te neem? En dit op so 'n manier. Dís wat ons verpletter.

Dieter was Dirk en Thelma se enigste kind. Thelma het twee ander kinders, Jacques van der Linde en Christel Hoeksma, uit ’n vorige huwelik.

Terwyl die egpaar vandag gereed maak om ’n gedenkdiens vir Dieter in Claremont, Pretoria, te hou, stoei hulle opnuut met vrae oor hul seun se dood.

“Ons is stukkend, maar ook kwaad,” vertel Dirk. “Nie omdat ons kind dood is nie, maar oor die manier waarop sy lewe geneem is. Wie gee ’n ander mens die reg om ’n lewe te neem? En dit op so 'n manier. Dís wat ons verpletter.” 

Dieter Grabie
Dieter was ’n “drukkie-mens”, al was hy nie sonder foute nie, vertel sy ouers. Foto: Verskaf

Maar daar is ook teer herinnerings aan ’n “stoutgat-seun”, vertel Dirk en Thelma.

“Dieter het maar soos baie jong mans soms nonsens aangejaag,” vertel sy ma. “Maar hy was ’n liefdevolle, drukkie-mens. Ons het nooit op hom opgegee nie – selfs al het hy ons met tye soms moedeloos gemaak.” 

Dirk vertel: “Dieter het dit gehaat om boodskappe te tik – hy het altyd stemnotas gestuur. Nou is dit iets wat ons vir altyd sal koester.” 

Hulle word deur familie en vriende ondersteun, vertel Thelma. Sy sê die boodskappe van gebede en bemoediging dra hulle in hierdie moeilike tyd.

“Ons ly verskriklik en ons gaan nog vir ’n lang tyd hierna ly,” sluit Dirk af. “Daarom wil ons vir ander ouers sê: Dit kan met enigiemand gebeur, ook met jou kind. So wees vir hulle lief en ondersteun hulle in alles, want jy weet nooit wanneer die einde aanbreek nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe