“Hy het Tammy Blanton geslag soos wat jy nie eens met ’n dier sou doen nie,” het die staatsaanklaer Jeremy Mull Woensdag in die hof in Indiana gesê.

Tammy Jo Blanton (46) het in September 2014 haar verhouding van vyf maande met Oberhansley (38) verbreek. Sy het rede tot kommer gehad, want haar kêrel het nie die einde van hul verhouding so goed aanvaar soos sy gehoop het nie.

Hy het haar agtervolg, verkrag en gevange gehou.

Sy het haar huis se deurslotte verander.  

Maar enkele dae daarna het haar laaste desperate beskermingsmaatreëls haar in die steek gelaat.

Tammy is die oggend van 11 September gevind met minstens 25 wonde aan haar gesig, nek en bors. Oberhansley was daar. In sy broeksak is ’n bebloede mes gevind . . .

Hy het haar borskas oopgesny, haar hart verwyder en dit geëet, asook haar brein.


Oberhansley is reeds in 2000 12 jaar tronkstraf opgelê nadat hy die ma van sy kind in ’n “dwelmbenewelde woede” doodgeskiet het. Hy het ook sy ma geskiet en op sy suster en babaseun losgetrek. Oberhansley het homself in die kop geskiet, maar het oorleef.

Daar is ook twee ander sake hangend teen hom: verwurging en verset teen die polisie asook misdadige nalatigheid met ’n dodelike wapen en verset teen arrestasie.

Die verhoor sal op 4 September voortgaan.

Bronne: usatoday.com, nypost.com, newsandtribune.com, courier-journal.com