Sharon Stewart is Woensdag in die Canterbury-hof deur regter Stuart Trimmer vir drie jaar tronk toe gestuur en 'n boete van ongeveer R22 400 opgelê omdat sy haar psigoterapeut bekruip, afgedreig en skade aan sy eiendom aangerig het.

Stewart is op 27 Julie vanjaar van bekruiping aangekla, waarna sy op 24 Augustus vir die eerste keer in die hof op die aanklagte verskyn het. Haar vonnisoplegging het op Donderdag 11 Oktober begin.

Groot was die skok toe sy Woensdag, ná haar vonnisoplegging, boonop die man en sy gesin toesnou sy is spyt sy het hom nie doodgemaak nie.

“Ek het julle gesê ek moes hom doodgemaak het,” het in die hof weergalm.

Maar wie is die vrou en waar kom die wrewel vandaan?

Shaz Paz

Stewart, van Kent in Engeland, was 43 jaar oud toe sy in 2015 onder die verhoognaam Shaz Paz skouspelagtig misluk het om Simon Cowell, Cheryl Fernandez-Versini, Rita Ora en Nick Grimshaw, die beoordelaars van The X Factor-talentreeks, te beïndruk.

Vir haar was dit ’n bitter teleurstelling omdat sy na bewering vyf jaar lank probeer het om tot ’n oudisie in die reeks deur te dring.

Binne sekondes nadat sy met haar skelpienk North Stars, geskeurde jeans en ’n T-hempie op die verhoog verskyn het, het die beoordelaars se gesigsuitdrukkings reeds verklap Shaz Paz sou nie tot die volgende ronde deurdring nie.

Dit het ook nie gehelp dat sy nie die lirieke van haar liedjie, Hideaway deur Kiesza, kon onthou nie.

Stewart het nie die oomblik, wat allesbehalwe glorieryk was, goed verwerk nie. Sy het beweer sy het 'n oudisie gekry om haar sleg te laat lyk omdat sy nie toegelaat is om Michael Jackson se Man in the Mirror (haar eerste keuse) te sing nie.

Sy het ook destyds beweer Simon het haar gedwing om te sê sy het klassieke musiekonderrig gehad.

Toe die liedjie Hideaway se lirieke boonop wegkruipertjie met haar speel, het sy besluit danspassies gaan die oomblik red.

Vergeefs.

Al wat Stewart oorgehou het, is die wete dat haar kollig-oomblik om al die verkeerde redes hoogty vier op Twitter en dat sy iets van haar emmerskoplysie kan afhaal: om voor ’n groot gehoor te dans.

Maar hoewel Stewart, oftewel Shaz, se oomblik in die kollig kortstondig was, het sy baie lank 'n invloed op die lewe van haar psigoterapeut en sy gesin gehad.

Drie jaar van hel

Die terapeut, wie se naam om professionele redes nie bekend gemaak is nie, moes van Maart 2015 tot Julie vanjaar onder Stewart se aanslag deurloop.

In daardie stadium het Stewart, ’n ma van twee, haar aansienlik ouer man by hul huis in Kent versorg en was die slagoffer haar terapeut.

Tientalle e-posse, vals Facebook-profiele en vals bewerings het deel van sy daaglikse lewe geword nadat hy vyf maande lank haar terapeut was.

Stewart wou glo meer uit die terapiesessies kry as wat hy bereid was om te doen en nadat sy hom verskeie kere weg van die Dover-beradingsentrum wou ontmoet, het hy hul sessies gestop.

Die teistering het in so ’n mate toegeneem dat die man uit vrees selfs geslote kringtelevisie by sy huis installeer het.

Hy het sy werk verloor (Stewart het glo briewe aan sy hoof gestuur), kos is teen sy voordeur gegooi, sy motor se afslaankap is gesny en dan was daar foto’s van ’n kruisboog en ’n vuurwapen met die skrikwekkende woorde: “Watter een sal dit wees?”

Sy het erken sy het ook ’n ander boodskap aan hom gestuur: “Tot siens, dankie tog en sterf asseblief stadig!”

Regter Trimmer het haar behoorlik berispe en sy mag nie naby haar slagoffer of sy gesin kom nie.

“Jy het aangehou met wat jy gedoen het selfs nadat die polisie met jou daaroor gepraat het.”

Hoe lank dit nog by haar terapeut gaan spook, is ’n ope vrag.

“Elke geluid in die nag maak my wakker, want ek is bang sy’s weer hier. Sy het herhaaldelik gedreig om my dood te maak. Dit maak my bekommerd en angstig. Dis ’n afskuwelike manier waarop ek my lewe moet leef.”

En Stewart? Sy het erken sy het dit gedoen en het 'n ineenstorting beleef wat voortgespruit het uit gebeure in haar lewe.

Meer oor bekruipers

Waar kom bekruipers vandaan?

Bekruipers laat jou kwesbaar voel en dis juis wat die mens beoog. Hulle begin dalk daarmee ná die verbrokkeling van ’n verhouding, maar daar is verskeie ander redes waarom iemand ’n mens op dié manier kan begin teister.

In Robert T. Muller se artikel In the Mind of a Stalker kan ’n bekruiper selfs meer indringerig optree deur hul slagoffer fisiek te konfronteer wanneer die mens byvoorbeeld nie op e-posse of oproepe reageer nie.

Verwerping en die vrees om verlaat te word, obsessies, fantasie (waar hulle voel hul teiken behoort aan hulle) en narsisme waar die gevoelens of grense van hul slagoffer geensins saak maak nie, is van die snellers wat ’n bekruiper kan motiveer.

Tekens waarop jy bedag moet wees

  • Vertrou jou instink - as jy voel iemand volg jou, moenie daardie gevoel ignoreer nie.
  • Duik dieselfde mens telkemale op waar jy is, sonder enige grondige rede?
  • Of weet die mens besonder baie van jou sonder dat jy met hom of haar daaroor gepraat het?
  • Anonieme boodskappe, geskenke, dreigemente en oproepe, soms van onbekende nommers, moet duidelike rooi vlaggies laat wapper.
  • So ook onverklaarbare “ongelukke” soos ’n pap wiel en iemand wat uit die bloute met ’n noodwiel opdaag
  • Onthou, ’n bekruiper sal ook nie huiwer om met jou vriende en familie bevriend te raak nie, alles net om nader aan jou te kan wees.

Bekruipers en jou verhouding

Hier is ’n paar gevaarligte in 'n verhouding:

  • Jaloesie
  • Narsisme
  • Obsessiewe gedrag
  • Manipulasie
  • Beheervraat
  • Ongemak in sosiale situasies
  • ’n Slagoffer-kompleks
  • “Nee” bestaan nie in die mens se woordeskat nie
  • “Jy skuld my . . .”
Raad met bekruipers

Action Against Stalking beveel aan jy moenie met jou bekruiper kommunikeer nie, maar moet ook nie die proses ignoreer nie.

  • Moenie sleg voel omdat jy kontak met so ’n mens verbreek nie; dit is immers te wyte aan onwelkome optrede van hul kant dat die situasie ontstaan het.
  • Moenie net dreig en sê jy gaan die polisie bel nie. Doen dit en doen dit so gou moontlik en verskaf meer besonderhede oor die mens en hou rekord van gebeure wanneer jy vermoed jou bekruiper is in die omgewing of weet hulle is in die ronde, oproepe en enige kommunikasie (hetsy deur die pos of elektronies) en wanneer jy die mens se motor gewaar en neem foto’s waar moontlik.
  • Maak seker jou vriende en familie weet wat aangaan. ’n Ekstra paar oë en ore kan altyd nuttig wees.
  • Wees versigtig met inligting wat op slimfoon-apps verskyn. Moet byvoorbeeld nie die apps toelaat om jou ligging te wys nie.
Bronne: psychologytoday.com, actionagainststalking.org, joinonelove.org, truthfinder.com, itv.com, metro.co.uk ,kentonline.co.uk, victimsofcrime.org