Die wrakstukke van minstens twee motors het Saterdagaand (2 November) oor die hoofweg versprei gelê kort nadat dié motors betrokke was in ’n botsing reg van voor.

Die ongeluk – wat deur die metropolisie as ’n hoë-impak-ongeluk bestempel word – het omstreeks 20:00 plaasgevind. 

Dit het die lewens geëis van Bilal Mohammed en sy vrou, Fatima, en die egpaar se kinders, Nurain (2) en Adam (twee maande). Fatima se broer, Ameen Jabaar, en dié se vrou, Sumayya Omar, het ook in die ongeluk omgekom.

Maandag het Mohammed Jabbar, ’n familielid van Bilal en Fatima, aan Huisgenoot gesê die familie is verpletter oor die dood van hulle geliefdes – en wroeg nou met vrae oor waarom die hele gesin uitgewis is.

Vir hom voel dit asof die flitsende blou ligte en skreeuende sirenes in sy geheue vasgebrand het.

“Ons is almal in ongelooflike pyn. Om te dink dit gebeur so vinnig: Jy word die oggend wakker; jy beplan jou dag; jy gaan kuier dalk by familie en vriende. Maar nooit besef jy dat jy later sal sterf nie – veral nie so wreed nie. En veral nie dat die hele familie uitgewis sal wees nie,” sê hy.

Lenasia
Bilal en Fatima. Foto: Verskaf

Die gesin het op die N12-hoofweg gereis toe ’n motor met vyf insittendes in die baan van die aankomende verkeer inswaai en met die gesin se voertuig bots.  Vyf gesinslede is op die toneel dood verklaar – net Sumayya het ure later in die hospitaal gesterf.

Die vyf insittendes van die ander motor is almal ernstig beseer. Hulle is in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal opgeneem.

“Hoe verklaar jy so iets?” wil Mohammed verslae weet.

Dan antwoord hy self: “Daar is vir ons geen antwoorde nie. Dis nou baie rou en almal is nog hartgebroke. Ons het nog nie eers begin dink aan aanbeweeg nie – ’n mens probeer sin maak van die wrede noodlot. Maar daar is vir ons geen sin daarin nie.

“Daar is werklik nie meer woorde nie. Ons is stukkend, maar ons kan net hoop dat daar vir ons vertroosting sal wees.”

Hy sê familie en vriende bied nou ondersteuning aan geliefdes van dié wat in die motorongeluk gesterf het. 

Maandagoggend het bewerings die ronde gedoen dat die ongeluk glo te midde van ’n jaagtog tussen die polisie en ’n groep verdagtes – die insittendes van die tweede motor – plaasgevind het.

Lenasia
Ameen en Sumayya. Foto: Verskaf

’n Navraag aan die polisie oor dié bewerings is na Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, verwys.

Op sy beurt sê Minnaar hy dra geen kennis van sulke bewerings nie, maar dat dit sal deel vorm van die ondersoek.

“Dit was ’n verskriklike ongelukstoneel – en baie erg om te sien,” sê hy.

“Oor ’n beweerde jaagtog kan ek nie kommentaar lewer nie. Dit is wel waar dat die bestuurder van die tweede motor – ’n Audi – in die aankomende verkeer ingery het en toe met die gesin se motor gebots het. Dis werklik ontsettend tragies.”

Minnaar sê ses aanklagte van strafbare mansslag staar die bestuurder van die motor nou in die gesig. Hy en die vier ander insittendes van die motor was teen Maandagoggend steeds in ’n ernstige toestand.

Sondagaand het die skrywer en motiveringspreker Naadira Chhipa op Facebook geskryf: “Net gisteroggend was hulle gesond, gelukkig en saam. Net gister het hulle wakker geword saam met hul familie, hul ontbyt saam geëet. Gister het hulle met hul eggenote gepraat, hulle omhels, gesoen en met hul kinders gespeel terwyl hulle gelukkig op reis was. Hulle het nie geweet dat dit hul laaste reis in hierdie wêreld sou wees nie.

“Hoe gereeld neem ons hierdie klein oomblikke as vanselfsprekend? Hoe gereeld dink ons is dit die laaste keer dat ek my man, kinders en ouers sien? Hoe gereeld word ons wakker en dink dat ons binnekort in ons qabr [’n graf] gaan lê?

“Omhels vandag jou maat ’n bietjie langer en sê vir hom hoeveel jy hom waardeer en liefhet. Lag, speel en hou jou kinders ’n bietjie langer vas.”

Teen Maandagoggend was geen begrafnisreëlings nog getref nie.