Dit was asof iemand die poorte na die hel oopgeruk het. Hulle kon die versengende hitte van die dreunende vlammemuur teen hul rug voel.

Byna verblind deur die verstikkende rook het hulle na die see gehardloop in ’n desperate poging om te oorleef. Maar toe doem ’n heining voor hulle op.

Geharde reddingswerkers was verslae toe hulle later op die toneel afkom. Toe die groep van 26 mans, vroue en kinders besef hulle het nêrens meer om heen te vlug nie, het hulle mekaar omhels terwyl hulle gewag het dat die vlamme hulle verteer.

En daar, ná die aanslag van die vlamme, het hul verkoolde lyke op die verskroeide swart landskap gelê, steeds in mekaar se arms.

Die wrakke van uitgebrande motors op die toeristedorpie Mati. Bestuurders was genoop om hul voertuie agter te laat en te vlug. Foto: Gallo Images/AFP.

Dit was net een van die vele afgryslike tonele op die Griekse platteland, naby die hoofstad, Athene, wat die wêreld einde Julie aan die hart geruk het. Wegholbrande het meer as 90 mense se lewe geëis, honderde beseer en hele dorpies in puin gelê.

Kort voor ons druktyd was talle mense nog vermis. “Ek het dooie mense gesien. Ek het minstens 300 uitgebrande motors gesien en talle afgebrande huise,” het die verslae Evangelos Bournos, burgemeester van die distrik Rafina-Pikermi, gesê.

“Ons probeer in ’n ander werklikheid funksioneer, want twee nedersettings, Mati en Kokkino Limanaki, het heeltemal van die landkaart verdwyn.” Ook sy eie huis is vernietig.

Dit word as Griekeland se dodelikste wegholbrande nog beskryf. Die inferno het op 23 Julie begin toe meer as 15 verskillende bergbrande in die streek uitbreek. Die vuur is deur stormsterk winde van tot 120 km/h per uur aangedryf en die brandbestryders kon dit nie blus nie.

Die vlamme het teen die berge af na die kus gesnel en tot op die idilliese toeristedorp Mati, sowat 30 km van Athene. Hier, waar inwoners en toeriste alles gelos het om te vlug, het die chaos ’n siedende hoogtepunt bereik.

Oral was verkeersknope omdat die hoofsnelweg naby Athene gesluit moes word. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Talle het in hul motors probeer ontsnap, maar is in ’n verkeersknoop vasgevang. Met die vlamme wat aan die geboue rondom hulle vreet, het hulle uit hul motors gespring, die see in gehardloop en probeer om van die verstikkende rook weg te swem. Maar sommige het hul rigting verloor, het te diep ingeswem en is deur seestrome meegesleur.

“Dit is verskriklik om die mens langs jou te sien verdrink en jy kan niks doen om te help nie,” sê Nikos Stavrinidis, ’n inwoner. Hy het saam met sy vrou en ses vriende die see in gevlug.

Hulle het ses uur lank water getrap en gebid. Hulle is eindelik deur ’n Egiptiese vissersboot opgepik, maar nie voor twee van Nikos se vriende, ’n ma en haar seun, verdrink het nie.

Daardie dag is honderde mense deur bote uit die see gehaal of van strande waar die vlamme hulle vasgekeer het.

Luidens mediaberigte is sowat 1 500 huise deur die brande vernietig. Die daklose mense word tydelik in hotelle gehuisves op dorpe wat die verwoesting vrygespring het.

Maria Dionysioti (67) het haar kleinseun (hy was nog ’n baba) in die brand verloor, asook twee van haar neefs en dié se kinders. Haar dogter Margarita veg om haar lewe in ’n hospitaal. “Dis so seer, so seer,” sê sy.

“Die dogter van my neef Grigoris het van ’n krans afgespring. My ander neef Michalis het saam met sy vrou en dogter in sy motor gesterf. Talle van my familielede word nog vermis. Sê my, waar kry ek woorde om dit te beskryf? Kan die menslike siel sulke goed verduur?”

Sy is ook dakloos, maar daaraan dink sy nie nou nie.

Meer as 1 500 huise is in die wegholbrande, Griekeland se dodelikstes nog, afgebrand of beskadig. Foto: Gallo Images/AFP.

Buite sy afgebrande huis het Nikos Giannopoulos, sy vrou en twee kinders gewag terwyl reddingswerkers binne na sy 88-jarige ma gesoek het. Haar verkoolde lyk is in die badkamer gekry.

’n Pasgetroude Ierse toeris, Brian O’Callaghan-Westropp van Dublin, was op sy wittebrood toe die vlamme die oord verswelg waarin hy en sy vrou, Zoe Holohan, gebly het. Hulle het mekaar in die chaos verloor. Sy het oorleef; hy nie.

Die lyke van die negejarige tweeling Sofia en Vasiliki Philippopoulos, wat by hul grootouers gekuier het, is in hul ouma en oupa se arms gevind. Hulle was in die groep van 26 wat voor die vlamme probeer vlug het.

“Ons het eers na die hospitale en polisie gegaan. Toe sê die brandweer die laaste uitweg is om in die lykshuis te soek,” het hul pa, Yiannis Philippopoulos, gesê.

Die regering loop nou deur oor sy hantering van die brandkrisis. “Ons is gelos om soos veldmuise te brand,” kla ’n vrou. “Daar was geen koördinering nie. Niemand het vir ons aanwysings gegee oor wat om te doen nie; vlugtende mense het meters van die see af in hul motors verbrand.”

Sy was ure lank in die see, rasend oor haar kinders, terwyl haar dorp gebrand het. “Ons was in die see, ons het in die see gebrand, mense het om ons flou geraak,” vertel sy.

“Ek het geskree terwyl ek my kinders probeer opspoor het. Ons het tienduisende sulke stories. Daar was geen rede dat ons moes brand nie.”

WAT HET DIE BRANDE VEROORSAAK?

Ná ’n droë winter en ’n somerhittegolf met temperature hoër as 40 °C was dele van die land soos ’n kruitvat, sê noodwerkers. En toe die brande uitbreek, het stormsterk winde die vlamme vinnig laat versprei.

Brande in die somer is ’n gereelde probleem in Griekeland, maar die owerheid meen dit is verdag dat 15 brande binne ure in drie gebiede naby Athene ontstaan het.

Hulle vermoed dit was dalk die werk van brandstigters wat huise wou plunder.

Griekeland se grootste vorige brand was in 2007, toe 77 mense op die skiereiland Peloponnesos dood is.

Ook in Swede, wat sy ergste droogte in 74 jaar ervaar, was onlangs sowat 50 reusebosbrande. Swede moes buurlande se hulp vra om die brande te tem.

In die Sweedse deel van die Noordpoolsirkel het somertemperature 30 °C bereik, verskeie grade bo die norm.

Maar terwyl omgewingskenners debatteer of klimaatsverandering die versengende hitte veroorsaak, moes Griekeland nog ’n krisis die hoof bied.

Die wegholbrande was skaars geblus toe reënstorms vloede in dele van die land veroorsaak.

Paaie is verspoel en dorpe suidwes van Athene moes ontruim word.

Pleks van vlamme blus moes die reeds uitgeputte brandbestryders toe sowat 160 mense uit oorstroomde huise red.

Bronne: Guardian.co.ukCNN.com, Telegraph.co.uk, BBC.co.uk, ABC.net.au