Reusagtige satanskinders wat ’n mens heel kan insluk. Jy het gedink dit gebeur net in Hollywood, maar dié glibberige gediertes is tussen ons.

Op 20 Februarie is werkers van die Diggersrest Timber Company op Tzaneen die skrik op die lyf gejaag toe ’n tamaai luislang van oor die 4,5 m op hul perseel gevind is.

Dié knewel het uit die bosse geseil, waarskynlik op soek na kos.

Mark Schmidt en Daryl von Pannier, twee bestuurders van die maatskappy, is ingeroep om die luislang te vang.

“Ons het plaaslike slangvangers gebel, maar niemand was beskikbaar nie,” vertel Mark.

Dit was nie die eerste keer dat Mark en Daryl hul lyf Steve Irwin moes hou nie.

Tzaneen
Vier mans moes dié slang vind. Foto: Verskaf

“Daar was al voorheen ’n luislang op die perseel. Ons werk met hout en dit gebeur maar dat ons met slange in die bos te doen kry.”

Maar hierdie juffrou was nie jou gewone slang wat jy in die troeteldierwinkel kan koop nie.

“Ons was verstom toe ons sien hoe groot sy is.

“Daryl het ’n stok op haar kop laat rus om seker te maak sy pik nie na ons nie. Toe vat hy haar aan die kop en drie van ons het die res van die lyf gedra.”

Volgens Mark was die luislang rustig.

“Ons het glad nie met haar gesukkel nie en sy het haar nie teëgesit nie. Ek dink dit het ook 'n rol gespeel dat dit so koel was die dag.”

Die mans het haar sowat 400 m van die perseel vrygelaat.

“Luislange is baie rustig,” sê hy.

“As dit ’n swartmamba was, sou ek nie naby gekom het nie.”