Al kan hy die afgelope 15 jaar net sy kop, skouers en 50% van sy arms beweeg, is hy ’n wêreldrekord-atleet en toegewyde sportman wat nie nee sê vir ’n uitdaging nie.

Pieter du Preez (38) was die eerste kwadrupleeg ter wêreld wat die Ysterman-driekampwedloop oor 226 km in Busselton, Wes-Australië, voltooi het.

Dit was in 2013. Sedertdien het hy dit nog vier keer gedoen.

Daarby was hy die eerste swemmer met ’n rugmurgbesering wat die 8 km tussen Robbeneiland en Bloubergstrand kon swem, hy hou die wêreldrekord in die 10 000 m-wedloop vir kwadrupleë en is die huidige en viermalige wêreldkampioen in handfietsry.

Maar ten spyte van al sy wêreldeerstes op sportgebied is sy grootste vreugde en geluk dat hy ’n jaar gelede pa geword het.

Nadat Pieter, ’n aktuariële ontleder by die maatskappy Deloitte in Johannesburg, en sy vrou, Ilse, amper 10 jaar lank gesukkel het om ’n kind te hê, is hul seuntjie, Pietman, eindelik gebore.

“Hy is ’n wonderwerkie,” sê Ilse (41), ’n arbeidsterapeut, oor die woelige seuntjie wat op 24 April vanjaar sy eerste verjaardag gevier het.

Ons kuier op ’n Vrydagmiddag by dié gesin in hul huis in Sunninghill, Johannesburg, en klein Pietman hardloop die huis vol terwyl ma en pa hul inspirerende storie deel. “Die mannetjie is ’n groot uitdaging, maar ons is so geseën met hom,” vertel Pieter liefdevol.

Die jong pa werk amper bomenslik hard om sy seun se trots te verdien

Dit is vir hom belangrik dat Pietman sal opsien na hom; daarom fokus hy op sy sport.

Die jong pa werk amper bomenslik hard om sy seun se trots te verdien: Al is sy lyf van onder sy arms verlam, oefen hy ses tot sewe dae per week tussen drie en vier uur per dag en neem hy gereeld aan groot sportgeleenthede deel wat swem, handfietsry en marathonne met ’n spesiaal aangepaste driewielrolstoel insluit.

Vir dié vasberade ysterman en pa is tou opgooi bloot nie ’n opsie nie.

Dit was op 6 Oktober 2003 om elfuur op ’n warm someroggend dat sy lewe soos handomkeer verander het.

Pieter, in daardie stadium 23 jaar oud en besig met sy honneursjaar in beleggingsbestuur aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit in Johannesburg, was met sy fiets op pad na ’n chiropraktisyn in Meyersdal, Alberton, in Gauteng toe ’n motor hom omry.

Hy het met sy kop en bors op die vuurwarm teer gelê en kon nie beweeg nie.

By sy vrou, Ilse, en hul seun, Pietman. Foto: Papi Morake

“Ek het geweet my nek is beskadig. Ek het net nie geweet hoe ernstig dit was nie,” vertel Pieter oor dié oggend toe hy ook sy femur (dybeen) en polsgewrigte gebreek en sy knieskyf vergruis het.

Hy is per ambulans na die nabygeleë Netcare Mulbarton-hospitaal, waar X-strale geneem is. Omdat die beserings ernstig was, is hy na die Netcare Unie-hospitaal in Alberton oorgeplaas.

Daar is hy geopereer, maar weens asemhalingsprobleme het hy tydens die operasie in ’n koma verval. Hy was ’n week lank in ’n koma en 32 dae aan ’n ventilator gekoppel.

Pieter was tydens die koma bewus van sy omgewing en het toe reeds geweet hy is ’n kwadrupleeg.

Die skok was dus nie groot toe hy wakker word en sy ouers, Piet en Ona du Preez, hom die nuus meedeel nie. (Ona is in 2012 oorlede.)

Weens die ventilatorpype kon hy in daardie stadium nie praat of beweeg nie, maar hy onthou: “Ek het ’n kalmte oor my gehad en geweet ek gaan oukei wees.”

Terwyl hy nog in die waakeenheid was, het hy op ’n dag skielik blind geraak. Die dokters het MRI-skanderings gedoen, maar kon nie verklaar wat fout is nie.

Selfs in dié donker tyd, vertel Pieter, was hy “superrustig”. Ná twee weke het hy op ’n dag weer skielik begin sien en eindelik sy sig heeltemal herwin.

Al was hy toe bly om weer te kan sien, het hy lank voor die ongeluk reeds daarmee vrede gemaak dat hy eendag blind sal wees.

Hy weet van jongs af hy het ’n degeneratiewe oogprobleem. “Ek het nou net ’n derde van my sig oor en dit gaan mettertyd vererger,” vertel hy oor die toestand, choroïderemia (retina-degenerasie), waarmee hy gebore is.

Ná 42 dae in die waakeenheid was hy 12 weke lank in ’n rehabilitasiekliniek voor hy kon huis toe gaan. As nuwe kwadrupleeg moes hy onder meer gewoond raak aan baie lae bloeddruk.

In 2017 het hy die eerste kwadrupleeg geword wat die 8 km tussen Robben­eiland en Bloubergstrand geswem het. Foto: Verskaf

“Dit was ’n taai tyd,” onthou Pieter nou. Maar danksy sy geloof, vertel hy, het hy geweet hy “gaan fine wees”.

So twee weke voor die ongeluk het hy ’n voorgevoel gekry iets gaan gebeur.

Hy is “deur ’n engel aangeraak” toe hy met sy fiets by ’n rooi lig stop, vertel hy: “Dit klink dalk vreemd, maar die engel het vir my gesê ek moet op God vertrou, dan sal Hy my beskerm en saam met my wees in alles wat gebeur.”  

Sy grootste ondersteuner is Ilse, die vrou op wie hy ná die ongeluk verlief geraak het. Hulle het mekaar leer ken terwyl hy in die hospitaal was.

‘Hy het die vermoë om perspektief te hê terwyl ander sukkel om die groter prentjie te sien’

Ilse het Pieter se broer Tom (40) geken, en omdat Tom geweet het sy is ’n arbeidsterapeut, het hy haar gevra om vir Pieter te gaan kuier.

Tydens sy 12 weke in die Riverfield Lodge-rehabilitasiekliniek naby Krugersdorp aan die Wes-Rand is hy nie toegelaat om die kliniek te verlaat nie, maar omdat sy ’n arbeidsterapeut was, kon sy hom saans gaan haal.

Sy het hom nie self behandel nie; hy het ’n ander arbeidsterapeut gehad. Ilse het hom telkens na die Oos-Randse kliniek geneem waar sy gewerk het sodat hy basketbal kon gaan kyk.

Ná sy ontslag was Pieter en die pragtige blouoog-Ilse ’n jaar en ’n half net vriende.

Die vriendskap het in ’n romanse ontwikkel en hulle het drie jaar uitgegaan voor hulle in 2008 getroud is.

Pieter erken hy het ná sy ongeluk nie gedink hy sal ooit trou nie.

Maar omdat Ilse ’n arbeidsterapeut was wat spesifiek met pasiënte in rugmurgrehabilitasie gewerk het, het sy hom goed verstaan.

Sy was op haar beurt in haar noppies dat hy, as ’n C6-kwadrupleeg wat veronderstel was om niks vir homself te kan doen nie en “nooit onafhanklik kan wees nie”, van die begin af gesê het hy gaan heeltemal onafhanklik wees.

Pietman stoot sy pa. Foto: Papi Morake

“Sy was intrigued, want sy het my geglo, al het sy nie geweet hoe ek dit sou regkry nie,” onthou hy.

Ilse vertel hoe goed hulle van die begin af oor die weg gekom het. “Ons kon ure lank kuier en dit was ’n gemaklike vriendskap.”

Sy het eers gedink hulle sal nooit meer as vriende wees nie omdat hy in ’n rolstoel is en dit dinge ingewikkeld gemaak het.

Tog was hy die een wat een aand vir haar gesê het sy gevoelens vir haar is sterker as net vriendskap.

Volgens Pieter was sy onseker en hy moes hard werk om haar te oorreed om met hom uit te gaan. Maar die liefde het geseëvier en vandag is hulle met klein Pietman geseën.

“Hy het die vermoë om perspektief te hê terwyl ander sukkel om die groter prentjie te sien,” sê Ilse oor die een ding wat sy die meeste van hom respekteer.

“Sy help my ontsettend baie, maar ek is ook onafhanklik,” sê Pieter.

Ilse is altyd daar wanneer hy deelneem, vervoer hom na sy oefensessies, neem foto’s en help hom met die tegniese aspekte van sy fiets en rolstoel.

'Ek is die een wat oor die wenstreep gaan en wen, maar sy is die een wat my daar kry'
Pieter

“My drome het haar drome geword en dit het eindelik ons drome geword,” sê hy.

Hulle weet hulle is ’n span en lewer soms saam inspirerende praatjies by skole, vir gestremdes en ander groepe.

Hy werk ook nog as aktuariële ontleder. “Ek is die een wat oor die wenstreep gaan en wen, maar sy is die een wat my daar kry,” sê Pieter oor sy vrou.

Nog wenstrepe wag dalk op dié gedugte span: Pieter wil die marathonwêreldrekord verbeter, hy wil die eerste kwadrupleeg ter wêreld word wat oor die Engelse kanaal swem en hy wil sy fietsry-wêreldtitel in Augustus vanjaar in Italië gaan verdedig.

Eendag sal klein Pietman kan sê sy pa het vir alles kans gesien.