Vyf jaar en twee groot operasies later, beleef Andro (nou 16) heelwat minder toevalle.

Op sy ergste het Andro sowat 60 toevalle per dag beleef. Hoewel hy steeds ligte toevalle kry as hy hard konsentreer, is Andro op die herstelpad en kan sy ma nie genoeg dankie sê dat haar seun nou ’n tweede kans op die lewe gekry het nie. 

Hier is haar brief (verkort).

Andro was 11 jaar oud toe hy ewe skielik sy eerste epileptiese teoval kry. Hy het geen kopbeserings of gewas op sy brein gehad nie, en sy MRI-skandering was skoon.

Hy het vier jaar lank pille gebruik en was heeltyd by verskillende hospitale in en uit. Hy het van homeopate tot sielkundiges, wat hom onder hipnose behandel het, gesien. Dit het ons derduisende rande uit die sak gejaag. 

Niks het gehelp nie en die epileptiese toevalle het net erger geraak. Dit het dag en nag gebeur en hy het naderhand vir die eerste 18 sekondes van die toevalle ophou asemhaal. Hy sou sommer 60 toevalle deur die loop van die dag kry. Ons as ouers het geen lewe gehad nie, ons moes hom dag en nag oppas.

Hy kon nooit naby ’n braaivleisvuur staan nie, nooit met ’n steakmes eet nie en nooit bad nie, want hy kon in enige stadium ’n toeval kry en homself beseer.

As ons moes weggaan vanweë ons werk, moes sy sussie, oupa en ouma instaan. Dit was natuurlik vir hulle baie traumaties, want dit is nie ’n mooi gesig om te sien nie, veral nie in die nag nie.

Partykeer moes hy steke in sy kop kry wanneer hy sy kop stamp as hy val. Een keer, toe hy van skool huistoe stap, het hy ’n toeval gehad en in die pad geval. Dankie tog vir die klein gemeenskap van Zeerust, waar ’n vreemde vrou, wat gelukkig van sy toestand geweet het, gestop het om hom te help.

’n Jaar gelede het Andro twee breinoperasies ondergaan. Hulle het sowat ’n kwart van sy brein uitgesny om dié dele waar die epilepsie gesetel is, te verwyder.

Hy is nog baie stadig en sukkel nog met sy balans, maar hy ontvang weer tuisonderrig en ons is werklik so dankbaar. Hy was twee weke gelede saam met sy ou skool se kinders op veldskool, waar hy alleen sy pille gedrink het en totaal onafhanklik kon funksioneer.

Hy kon ook al die aktiwiteite saam met sy maatjies doen, en daarvoor loof en prys ek die Here.

Ek staan verstom wanneer Facebook my soms herinner aan verlede jaar hierdie tyd.

Ek hoop ek kan ander ouers inspireer dat daar ’n lewe met epilepsie is. Moet net nooit moed opgee nie! Iemand daar buite kan altyd help. Jy as ouer moet net daardie persoon soek tot jy hom kry.

Andro se storie het ons geleer dat ons baie sterker is as wat ons dink en dat niks onmoontlik is nie. As ’n mens hom vra hoe dit gaan, sal hy altyd sê: ‘Baie goed, dankie’.

Andro het beslis ’n tweede kans op die lewe gekry.