Daar word nog gewag om te sien of Zuma tog dalk op die nippertjie aan sy organisasie se wense gehoor gaan gee en bedank, maar hier's intussen 'n kykie na hoe die Zexit-situasie in die volgende ruk kan ontvou:

As hy steeds verseg om te bedank

Die ANC-NUK is die party se hoogste besluitnemingsliggaam, maar hul besluit om hom te herroep beteken nie dat hy outomaties moet of sal bedank nie – soos wat oudpres. Thabo Mbeki destyds dadelik en met waardigheid gedoen het toe hy verneem sy party wou nie hê hy moes langer president wees nie.

Hulle kan hom ook kragtens wet nie bloot self as president verwyder nie, omdat die president deur die parlement aangewys word. 'n Verwyderingsproses deur die parlement ingevolge die Grondwet is dus nodig.

Opposisiepartye het reeds gevra dat hul bestaande wantrouemosie – geskeduleer vir 22 Februarie – vervroeg moet word toe hy teen begin vandeesweek steeds nie wou bedank nie. Maar teen Dinsdagmiddag het dit gelyk asof die ANC self so 'n mosie wou instel sodat die opposie nie die Zexit-kollig steel nie.

In die laaste van die vele vorige vergeefse wantrouemosies teen Zuma het die gety reeds teen Nommer Een begin draai toe sommige ANC-lede teen Zuma gestem het.

Vir 'n suksesvolle wantrouemosie is slegs 'n gewone meerderheid nodig.

Sou so 'n mosie dié keer slaag, moet die president en sy kabinet bedank en neem die speaker van die parlement (tans Baleka Mbete) as president waar – vir 'n maksimum van 30 dae.

Die hoofregter (Mogoeng Mogoeng) moet dus binne 'n maand 'n datum bepaal waarop die Nasionale Vergadering die nuwe president moet aanwys.

Sou die nuwe president nie binne 30 dae ná Zuma se verwydering aangewys word nie, moet die speaker die parlement ontbind en 'n vervroegde algemene verkiesing gehou word.

In die geval van 'n geslaagde wantrouemosie sal Zuma steeds 'n voormalige president se gewone voordele behou.

'n Wantrouemosie veronderstel nie ingevolge die wet noodwendig wangedrag of onbevoegdheid by die president nie. Dis 'n grondwetlike instrument waarmee 'n party ook 'n leier in wie hulle bloot vertroue verloor het, kan herroep.

As hy tog oplaas instem om te bedank

As Zuma wel (in 'n brief aan die speaker) sy bedanking indien, sal adj.pres. Cyril Ramaphosa waarnemende president word.

Cyril Ramaphosa. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy sou as sodanig ook die staatsrede kon lewer. Die hoofregter bepaal dan weereens 'n datum, binne 'n maand ná Zuma se bedanking, waarop die Nasionale Vergadering 'n nuwe president uit sy lede sal aanwys. 

In dié geval word die kabinet dus nie outomaties ontbind nie, maar die nuwe president sal uiteraard sy eie kabinet kan aanwys.

Vroeër is wyd berig dat die NUK Zuma 'n ultimatum gegee het om binne 48 uur te bedank as hy nog verwydering deur parlementêre prosesse wil vermy, maar Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, het op vanmiddag se nuuskonferensie ontken dat hulle hom so 'n spertyd gegee het. Hy't wel bygevoeg dat hulle dit as 'n dringende saak beskou.

Zuma sou met sy bedanking ook uiteraard die normale voordele van 'n afgetrede president behou.

Staat van beskuldiging

Nog 'n opsie om van 'n president ontslae te raak, hoewel blykbaar onwaarskynlik hier, is om hom in 'n staat van beskuldiging te plaas (impeachment).

In dié proses kan wetgewers op bepaalde gronde 'n president uit sy amp onthef, insluitend 'n ernstige oortreding van die Grondwet en ernstige wangedrag.

Hiervoor is 'n tweederdemeerderheid in die parlement egter nodig.

Die president word ook hier deur die adjunkpresident vervang. In dié geval kan die president wel die normale voordele by aftrede verbeur.

G'n verskoning

ANC-parlementslede het g'n verskoning meer om Zuma nie in 'n moontlike wantrouemosie uit te stem nie.

Volgens prof. Roger Southall, politieke ontleder van Wits, het Zuma betreklik onlangs nog – omdat net vier van die topses blykbaar wou hê hy moes onmiddellik waai – die ANC-leierskap basies uitgedaag om die party se meerderheid in te span om hom tydens die beplande mosie deur die opposisie uit te stem.

Sy dobbelspeletjie in dié opsig was dat hy weereens so iets sou kon oorleef omdat ANC-steun vir 'n mosie deur opposisiepartye te veel van 'n verleentheid vir die regerende party sou wees.

Hulle sou dit nie wou laat lyk of daar onder die opposisie se leiding uiteindelik van 'n ANC-president ontslae geraak is, terwyl die party self so met hom gesukkel het nie.

Met vorige wantrouemosies en kritiek oor hul ruggraatloosheid rakende JZ, het die ANC gesê hulle sou self hul probleme by hul Desember-leierskonferensie uitpluis.

Maar met Ramaphosa se sege daar by Nasrec, sou die ANC geen verskoning meer hê om nié dié keer 'n opposisiemosie te steun nie.

Enigiets anders sal moreel onregverdigbaar wees, meen Roger, en die ANC se populêre steun verder knou.

Kan Zuma die regerende party intussen nog verder beduiwel?

In sy onderhandelings "sou Zuma wel die CR-kamp kon probeer afpers deur te sê: 'As julle my nie akkommodeer nie, sal ek seker maak julle wen nie die 2019-verkiesing nie', verneem ons van prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit. "Zuma het ook weer gespeel met Zoeloe-nasionalisme, 'n lont in 'n kruitvat..." Hy sou die gebrek aan 'n KZN-verteenwoordiger in die nuwe ANC-topses kon inspan, sê André.

"Intussen dink ek sy steunbasisse het verklein en dat van sy lojaliste oorloop na die CR-kant toe."

André noem Zuma het ook gedreig om sy eie party te vorm.

Maar prof. William Gumede, skrywer en politieke ontleder verbonde aan Wits, meen selfs al breek hy so weg van die ANC, sal min partyleiers en -ondersteuners hom volg.

Die mag van begunstiging lê immers in die president en regerende party, en baie ANC-leiers sal dus waarskynlik eerder hul kanse met Ramaphosa waag (om hul poste en voordele te probeer behou) as om dalk alles te verloor as hulle hulle by 'n nuwe party skaar.

Wat van sy hooftrawante in die ANC en die regering?

"Ek dink 'n klomp Zuma-lojaliste en korrupte kaders kan ook vorentoe in 'n skoonmaakoperasie aan die kaak gestel word. 'n Klomp mense, insluitend die Ace Magashules (Vrystaat-premier en ANC-sekretaris-generaal) en Supra Mahumapelos (Noordwes-premier en NUK-lid) het rede tot kommer..." sê André.

Bygesê, "ons wag hier vir 'n regimeverandering" en van die sleutel-Zuma-mense van wie  Cyril-hulle ontslae sou wou raak, "is nes Zuma: Hulle manipuleer, ondermyn, dwarsboom... en sommige het ook nog beduidende magsbasisse en middele".

Ramaphosa of te nie, moet ons dus nie die pad vorentoe romantiseer nie. "Hierdie kan 'n baie moeilike era in ons politiek word.

"Zuma en sy lojaliste kan 'n magsvakuum laat, en daar gaan ook kompetisie wees oor posisies in die CR-kamp".

Ekstra bronne: democracyworks.org.za, theconversation.com, AFP, Reuters