Ons gaan kyk na die fliek Dominee Tienie.

Dit gryp my aan die hart. Nee, nie die dominee nie, maar sy vrou, Ester. Ek is ook ’n Ester. ’n Predikantsvrou. Al 37 jaar lank.

Ons Esters is daardie onsigbare wesens langs die predikant. Hoeveel keer het ek nie al langs my man gestaan as iemand kom groet nie. My hand uitgesteek net om later weer my leë hand te laat sak. Want ek is mos onsigbaar.

Ek wonder hoeveel ander Esters daar buite is?

Is dit so vreemd dat sommige predikante se huwelike misluk?

Dat hul Esters dalk deur iemand anders “raakgesien” word?

Esters is sterk vroue wat deur elke storm kan staan. Tot jy die dag knak.

Aan al die Esters daar buite wil ek sê: Ek salueer julle. My hart breek vir julle.

Aan die skape in die kraal, julle moet wakker word. Waardeer jul Esters. Sonder sy Ester is dominee Tienie eintlik maar niks. 

  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. 
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. 
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300