Dit was ’n gewone Dinsdag. Ek onthou nog die datum: 5 Augustus 2014.

Vroegdag was ek al vir ’n inkopietog opgedollie. Eintlik effens onwillig.

Sien, iewers tussen winter en weer het twee onwelkome vetrolletjies om my heupe kom tent opslaan. Ek beleef ’n stoeigeveg tussen trooskos en haaskos en probeer brood uitsny, maar my goeie voornemens hou nie.

Die vorige aand het manlief die uitnodiging aan my oorhandig nadat hy heel smaaklik aan sy tweede skeppie kos op sy bord gesmul het. “’n Spesiale geleentheid,” sê hy so ewe met ’n knipoog.

Reeds oortuig daarvan dat sy vrou sal skitter. Soos altyd.

Nie ’n idee van hoe moeilik daardie twee vetrolletjies sy vrou se lewe maak nie. “Verdomp! Mans het dit net makliker,” dink ek.

Ek laai die skottelgoed ekstra hard in die opwasser. “Môre, net môre is die dag,” besluit ek.

Winkel tot winkel. Aantrekhokkies en kunsmatige lig. Ek voel my bloeddruk styg, my voete is seer en my moed teen die grond.

Al wat ek wil hê, is ’n tjoklit.

Toe gebeur dit. Op die oomblik dat ek die laaste uitrusting aandurf. Die vloer onder my skud op ’n vreemde manier.

’n Oomblik lank staan ek verskrik. Toe laat val ek die rok op die vloer en vlug saam met al die ander mense na buite.

Buite drom mense nuuskierig saam, maar niemand weet wat aangaan nie. Die hemele behoed ons.

“My kinders, Here! Is hulle veilig by die skool?” is my eerste gedagte.

Terug in die motor skakel ek die radio aan. ’n Aardbewing het pas die sentrale binneland getref en dit het 5,5 op die Richterskaal gemeet.

Dit kon tot in Botswana gevoel word. Skielik beteken ’n mooi rok en rietskraal figuur soveel minder. Aniki Joseph

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.