So baie mense dink aan die boere van ons land as harde, ongevoelige mense.

Dis immers mense wat dit hul daaglikse taak maak om diere groot te maak, net om hulle eendag weer te verkoop of te slag vir oorlewing.

Hulle besef nie ’n boer is net ’n mens soos enige ander nie. En glo my vry, die dag dat ’n boer oupa word, is die dag dat sy hart heeltemal sag word. Neem nou maar my pa, wat sy lewe lank boer.

Op ’n dag in 2012 is ’n lammetjie op die plaas gebore. Die soveelste van baie.

Maar dié een was anders; sy is blind gebore. Voorheen sou my pa heel waarskynlik, soos enige ander boer, net daar van die diertjie ontslae geraak het.

Pleks daarvan gee hy die lam toe vir my tweejarige dogtertjie. Die lam is op die plek Liefiekind gedoop. En hoewel sy blind was, het sy deur net haar gehoor te gebruik so by die plaaslewe aangepas dat jy nie sommer sou dink iets skort met haar nie.

Liefiekind het ’n pragtige ooi geword wat vyf keer gelam het. En vier van die vyf keer was dit tweelinglammers, blakend gesond. Elke keer dat dit tyd was om op die plaas te gaan kuier is ’n brood spesiaal net vir Liefiekind gekoop.

Dit was haar gunstelinglekkerny. In September vanjaar kry ek ’n boodskap van oupa. Hy weet nie hoe om die slegte nuus aan sy kleinkind oor te dra nie; sal ek dit asseblief doen?

Ons ou Liefiekind is weens ouderdom dood. Maar oupa belowe hy sal haar begrawe en ’n kruis opsit sodat almal weet dis ons Liefiekind wat daar rus. Hoe spesiaal is dit tog nie.

 E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.