My seun was ook die slagoffer van boelies omdat hy in ’n gesogte privaat skool uitgeblink het. Hy het een se plek gevat in die rugbyspan; een s’n in die krieketspan. Hy was akademies briljant.

Daar was altyd ’n kind wat moes terugstaan en ’n ongelukkige ouer. Dit hou nie op nie. Jy kan, soos ek, al die bewyse aan die boelie-ouers toon, maar hulle glo vas hul boeliekinders is eintlik die slagoffers.

My kind het self besluit om na ’n ander skool te gaan met kinders wat net so briljant en selfs beter as hy is. Toe die privaat skool se onderwysers daarvan hoor, het ook hulle my kind begin boelie.

Hy is die lelikste woorde toegesnou op die skool se selfoongroep vir almal om te sien. Hy het ons nooit alles vertel wat met hom gebeur het nie, maar as ouers weet ons hy dra steeds die letsels daarvan.

Hy stel steeds die hoogste standaarde vir homself by sy nuwe skool, maar bly nederig omdat hy vrees hy kan weer in dieselfde slegte situasie as voorheen beland. Intussen het die boelies uit die bus uitgeval.

Hul ouers is skaam as ek hulle oor hul seuns uitvra. Lyk my die spoggerige skool kon hulle toe nie integriteit en eerlikheid leer nie.

Mamma, haal jou kind uit daardie skool uit. Breek bande met ouers wat niks van hul kinders se wandade wil weet nie. Die kaiings braai uit, die vet beland in die vuur.  

Dank die Here, my kind is vandag gelukkig en ’n briljante eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch.

As ouers is ons sy grootste ondersteuners en sy vriende sy grootste aanhangers.

–W op D

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.