Baie dankie vir elke week se heerlike Huisgenoot.

Ek het geskaterlag vir Hantie se skoonseun wat op die televisiereeks Boer soek ’n vrou gesê het hy dink Hantie en Hentie is oukei . . . hy weet net nie of mens op daai ouderdom nog verlief kan raak nie!

Hentie is maar 51 jaar oud en Hantie seker so ’n bietjie jonger. Ja, seuna, wag maar . . . jy’s nou-nou self daar. Brieke help nie.

Daar is verliefdheid en daar is liefde. En dis goed vir solank jy dit inlaat en jouself oopstel daarvoor, maar terselfdertyd besef waarvoor jy jou inlaat.

Liefde beteken ook om een sin drie maal te herhaal as hy “huh?” sê wanneer jy hom ’n vraag vra.

(Dis hoekom baie vroue soms 3 000 woorde per dag moet praat teenoor die mans se 1 500, maar toemaar.)

Liefde is om effens sagter te kreun om te verdoesel hoe erg jou eie ledemate pyn terwyl jy sý seer rug vir hom vryf.

Om die heel laaste skaaptjoppie vir hom in te pak werk toe – al was jy self lus daarvoor. 

Om vir hom te sit en kyk terwyl hy “glad nie ’n middagslapie vat nie” en eintlik net sy oë ’n bietjie laat rus daar op sy gemaklike La-Z-Boy . . . Om saam met hom krieket te kyk terwyl jy brand om eerder On the Case with Paula Zahn te kyk, maar jy kla nie te veel daaroor nie.

Liefde kom in vele gedaantes, boet.

Ware liefde is geensins volmaak nie; dis nie kersies en room en glitter voor die kameras nie.

Dit is daardie gemeensaamheid en vriendskap en aanvaarding van mekaar se geite en verskille. Selfs al wil dit jou soms stilletjies die mure uitdryf.

Groetnis,

– MINDI REINET ELS