Dis oomblikke soos dié een wat ek vir ewig wil vasvang.

Die waaier karring die lug net genoeg sodat dit nie koud word nie en die stilte heers, soos dit maar selde hier heers.

Die drie katte slaap waar ek hulle kan sien. Rosy lê opgekrul bo-op die gasmeter se kabinet. Daisy is langs my op die koel vloerteëls. En Lily lê uitgestrek in haar bedjie.

As ek my wens kon laat bewaarheid, sou ’n helikopter ons nou almal so binne-in ons borrel van vrede oplig, met ons deur die lug vlieg en ons saggies op ’n plek neersit waar ons kan bly met ’n uitsig oor groen gras, hoë bome wat fluister en ’n kabbelende stroompie.

’n Plek waar dié rustigheid kan voortleef, sonder die moontlikheid dat ’n boelie enige oomblik by die deur sal inbars en ons almal kom omkrap en versteur.

Daarom leef ek vir oomblikke soos hierdie. Oomblikke waarin die stilte heers. F. Nolan

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.