Vandag besoek ons ’n ouetehuis. Sommer net om met die kosbare ou mense te gesels.

Die meeste wag vir ons in die sitkamer, party met mussies op hul kop of komberse tot onder die ken om hul liggaam teen die koue te beskerm.

Sommige se kop knik kort-kort, want hulle veg hard teen die middagslapie wat hulle bekruip. Maar hulle wil nie die welkome geselskap misloop nie.

Ons probeer een tannie troos wat huil omdat haar seun haar nooit besoek nie. Wat sê ’n mens?

Ons deel die sjampoe, tandepasta en seep uit wat ons saamgebring het.

Dan tref dit my: Dis Vadersdag. Daar sit verskeie ooms wie se kinders nie op hierdie dag kom kuier het nie.

Dis tyd om te groet. Een van die ooms sê wanneer ons ry, gaan hy huil.

Toe huil ons maar saam.

Maar ons sal weer kom. En ons hoop op die volgende Vaders- of Moedersdag sal jul kinders ook hier wees. Anoniem

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.