Een probleem is my man het sonder ’n pa grootgeword. Hy het eers sy pa ontmoet toe hy 15 jaar oud was.

Daarna het hulle net twee keer kontak gehad voor sy pa oorlede is.

My man voel verlore. Hy voel asof sy pa hom weggegooi het.

Hy pleit nou al jare lank by sy ma om hom te vertel wat tussen haar en sy pa gebeur het en hoekom hulle nie getroud is nie.

Maar my skoonma swyg soos die graf. My man se pyn is so erg dat hy soms dae lank stilstuipe het.

Wat die situasie soveel erger maak, is dat my skoonma haar ander seun, wat ’n ander pa het, en dié se familie bo my, my man en ons kinders kies.

Skoonma vertel aan almal wat wil luister hoe ek haar kleinkinders van haar af weghou. Dis nie waar nie.

Sy stel bloot nie in ons gesin belang nie.  Ons harte is stukkend. My man kry swaar en weet nie hoe om die situasie te hanteer nie.

Pleks daarvan om die probleem te probeer oplos verdiep hy hom heeldag in sy werk en sluit ons uit.

Skoonma, jy verwoes ons lewe. Ek het 21 jaar lank net my beste vir jou gegee met die hoop dat jy hom en dalk ook ons sal aanvaar. Maar jy wou nie. Al wat ek kan doen, is om Gods water oor Gods akker te laat loop.

My man is lief vir jou en ook vir ons.

Maar ons verkies nou om die lewe sonder jou aan te durf.

Ek is lief vir jou seun en sal hom bystaan soos wat jy nooit wou nie en nooit in jou hart sal vind om vir hom te doen nie.

– Anoniem

Skryf aan ons