Kanker het al baie vroeg in my lewe aan my deur geklop. Dit het my gestroop van ’n eenvoudige lewe saam met my man en my kinders se pappa kom steel.

Dit is nou al sowat twee jaar sedert slukdermkanker by my sielsgenoot gediagnoseer is. Hy was net 32.

Ons tweede dogtertjie het haar tweede verjaardag gevier in dieselfde maand waarin hy met chemoterapie begin het. Dit was ook die maand waarin ek uitgevind het ek is weer swanger.

Nege maande lank was dit ’n moeilike stryd om saam met Christo die pad te stap, swanger te wees en liefde en aandag aan my twee dogtertjies te gee.

Die chemoterapie en bestraling het nie gewerk nie, en hy is eindelik hospies toe.

Hulle het so mooi na hom gekyk in sy laaste dae toe ek nie meer kon nie. Terwyl ek hoogswanger was, het ek besef die tyd kom nader om my man te moet groet en my seuntjie in die lewe te verwelkom.

Ek het alleen die lewe aan ons seuntjie geskenk. Terwyl ek wou bars van geluk, het ’n suster van die hospies die nuus kom oordra dat my man daardie dag oorlede is.

Gelukkig kon hy voor sy dood ’n foto en video van sy seun sien.

Ek het met ’n bondeltjie vreugde uit die hospitaal gestap net om aan my oudste dogtertjie te moes gaan verduidelik haar pappa is dood en daarna te begin om my man se begrafnisreëlings te tref.

Ek weet my verhaal is nie uniek nie en dat kanker daagliks mense se lewens vir ewig verander.

Wat ek wel weet, is: Leef, wees lief en moet nooit aanvaar dat môre net nog ’n dag is nie.

– Leanne Heymans 

Skryf vir ons