Twintig jaar gelede het ons gesin se lewe vir altyd verander. Op 11 Januarie 1998 was ons in ’n motorongeluk.

My ma is oorlede, my broer het breinskade opgedoen, en ek het my been verloor.

My pa is sewe jaar voor dié ongeluk, kort voor my geboorte, ook in ’n motorongeluk dood.

Tot vandag toe weet ek nie wat van die man geword het wat oor die rooi verkeerslig gery, teen ons gebots en al die skade veroorsaak het nie.

Sedert die ongeluk was dit net drama. Asof dit nie vir ’n kind erg genoeg is om sonder ouers te wees nie, is ons van die een huis na die ander gestuur. Eers na my oom en tannie, toe my ouma, toe terug by my oom en tannie, toe na die kinderhuis en toe weer na my ouma.

Ons het geen roetine of standvastigheid gehad nie. Ek was ongelukkig en het dinge gedoen wat nie altyd reg was nie. Alles om aandag te kry.

Op 17 het ek swanger geraak. Ek was so kwaad vir myself. Ek wou nooit kinders gehad het nie, want ek wou nie hê my kind moes dieselfde ongelukkigheid beleef nie.

Maar toe my seun gebore word, was hy alles wat enige ma kon vra. Hy het al die slegte goed in my lewe laat verdwyn.

Ek het later ’n man ontmoet met wie ek getrou het. Hy is my en my seun se held.

As ek die tyd kon terugdraai, sou ek iets verander? Nee. Want was dit nie vir so baie pyn nie, het ek nooit geweet hoe goed so baie geluk kan voel nie.

Ek gaan steeds deur moeilike tye, maar dan sê ek vir my man en seun ons kan onder ’n boom bly, solank ons saam is.

Want as ons saam is, sal ons altyd gelukkig wees. Cindy Beukes

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.