Ek dink terug aan ’n vrou wat nuwe betekenis aan sterk gegee het.

Tante Mostert het in Marico se wêreld gebly. Almal het geweet dié tante is sterker as sterk.

Toe die kêrels begin kuier, was haar pa se eerste opdrag vir hulle om die smidswinkel se aambeeld op te tel.

Nie een kon dit eens roer nie. Pa roep sy dogter nader. Sy tel die aambeeld op, stap vyf treë, kom terug en sit hom terug op sy plek.

Eendag het sy twee springbokramme geskiet en met een oor elke skouer huis toe gestap om dit self te verwerk.

Daar was ook die keer toe sy die sersant se perdekar herstel en sommer ook die lewe geskenk het.

Sy was 80 jaar oud, toe maak sy ses stoele van tambotiehout vir haar dogter.

Toe ek hulle op ’n keer weer besoek, sê sy haar dogter het nog nie die stoele kom haal nie. “Sy kan nou maar voertsek. Dominee kan een van die stoele vat,” sê sy.

Ná 60 jaar is dit nog die stoel wat ek daagliks by my skryftafel gebruik. James Kemp

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.