As dit nie reën is nie, is dit ’n brand. Verbeel jou dit gebeur met jou: Dis vat en vlug. Wat neem jy saam en wat laat jy agter?

Ek kan nie dink dat een van ons ’n gepakte tassie het wat gereed staan vir wanneer ’n vloed, brand of ramp alles van jou bedreig nie.

Mense sê so maklik dit is wêreldsgoed. Tog het jy dalk ’n leeftyd geswoeg en gesweet daarvoor. Dis jou hele bestaan.

Nou kan jy dalk alles verloor. Sekere goedjies sal nooit vervang kan word nie, selfs al swoeg en sweet jy nog ’n leeftyd langer.

So wonderlik soos wat vuur en water kan wees, net so vernietigend kan dit wees. Tog, op die een of ander manier kry mense dit reg om uit die modder en as op te staan en oor te begin.

Dit kan nie maklik wees nie, en daar sal baie hoekoms en verlange wees.

Maar daar is mos twee dinge wat jy nooit moet verloor nie: kop en moed. 

– Natuurkind, Bloemfontein