Ek was ses jaar oud toe die Tweede Wêreldoorlog begin en 12 toe dit eindig.

Ek, my ouers, twee susters en broer het in Durban gewoon. Almal moes die stad so donker moontlik hou in geval van Duitse lugaanvalle snags.

Ses jaar lank was ons vensters swart geverf. Alle ligte buite was af. Ons moes ná donker binne bly.

Batterye vir pa se radio was onbekombaar. Daarom het hy net saans die radio aangeskakel om nuus te luister.

Dinsdae kon die hele gesin egter saam na die radioverhaal Soetmelksvlei luister.

Ons enigste ander vermaak was ma wat plate op die grammofoon gespeel het.

Binne moes ons ook met ons hande oor ons ore kniel.

Soms het die sirenes geloei wanneer ’n lugaanval vermoed is. Dan het ouma ons kinders uit die bed kom haal. Daarna moes almal onder die eetkamertafel kniel met ons hande oor ons ore gehou.

Dan het ons gehuil. Wanneer die sirenes weer geloei het, kon ons gaan slaap.

Wanneer die sirenes in skooltyd afgegaan het, moes ons in ’n ry teen die muur staan en het juffrou ons ’n stukkie rubber gegee om op te byt. Daarna moes ons na die speelterrein beweeg, waar bunkers van sandsakke was.

Binne moes ons ook met ons hande oor ons ore kniel. Ek wonder of iemand ooit besef het hoe sulke dinge kinders laat voel.

Ons was bang. Maar saans het pa vir ons uit die Bybel gelees: “Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”

Vandag is ek 85, maar dié gedeelte is nog vars in my geheue. Dit troos my elke keer dat ek lees of hoor van die lelike dinge wat hier en in die buiteland gebeur. Petro Benade, Strubensvallei, Gauteng