Dit het my sommer ook aan die dink gesit oor als, en dís my gewaarwording: Die coronavirus veroorsaak nie net sleg nie, want uit die sleg spruit ook baie goeie dinge.

Weens die vinnige verspreiding van die virus word soveel dinge noodwendig gekanselleer om dit te probeer bekamp.

Maatskappye kanselleer geleenthede en laat mense tuis werk, sportbyeenkomste en vlugte word afgestel, om maar ’n paar te noem.

Die gevolg is dat mense nou tuisbly en gesinne hulself moet vermaak.

Dit skep weer gehaltetyd en ’n rustiger omgewing waar gesinne mekaar kan herontdek en geniet.

Die geldmarkte steier as gevolg van die siekte en mense verloor derduisende rande, maar saam met daardie besef kom ook die wete dat geld nie alles is nie.

Ons almal is so besig om alles in te ploeg om loopbane te bevorder dat ons tyd vir mekaar ál minder word.

Gesinne spat uitmekaar, mense se gesondheid ly daaronder en almal is so aan die gang en gejaag.

Dit het ’n virus gekos om te sê: Raak rustiger, bly tuis en bring weer tyd deur saam met die mense wat julle die liefste het. Koester jul gesondheid, waardeer jul geliefdes en vergeet die gejaag na wind.

Op die ou end is ons geliefdes tog die spil waarom ons lewens draai.

Die virus het die wêreld in kwarantyn gesit, en die boodskap is duidelik: Ons almal is verganklik. Jaag dus minder, rus meer en koester jouself en jou gesin.

Hierdie rustyd is dalk net wat ons almal en die wêreld nodig het.

– CHARLOTTE PRETORIUS

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.