Joernalis, Pieter van Zyl, het weer begin brein in
Joernalis Pieter van Zyl het weer begin brein in die tyd van COVID-19-inperking. Foto: Verskaf

Dit kan dalk eers oor drie maande wees. Hoeveel blokkies komberse sal ek dan al kon maak vir daklose mense in die omgewing.

Die sonnetjie skyn deur die venster op my voor die skootrekenaar aan die tik soos ’n besetene. Oorkant die spookstil straat vonkel die Seepunt se branders. En ek is omring deur allerhande kleure en soorte wol.

As ek wil rook, dan brei ek. As ek die yskas wil invaar vir nóg iets te ete, dan brei ek.

As ek wil wegsink in ’n gat van weemoedigheid, dan neem ek die naalde op en veg teen die Donkerman.

Dit werk nie altyd nie. ’n Breinaald is nie ’n towerstaffie nie, maar dis darem iets. Ek het myself belowe dat ek die inperking gaan oorleef, sigaretvry en ’n paar kilogram minder.

Die 5 L-doos rooiwyn is die naweek al klaar. Dis water of lemoensap tot 16 April – of nog maande later.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Daarom doen ek vloer-oefeninge in die gastekamer, wat nou leeg staan – in die oggend as ek opstaan en teen vyfuur smiddae as die werkdag verby is.

Ek het in 2005 ook so verwoed gebrei, nadat ek vir eerste keer ophou rook het. Toe is dié handvlyt as “die nuwe joga” beskou.

Sterre soos David Arquette en Jennifer Aniston het toe die naalde laat klik, Julia Roberts is al ’n ou breihand en ontwerp selfs haar eie patrone, en Spice Girls se Geri Halliwell, Daryl Hannah en selfs die stoutseun van rap Snoop Dogg was al met penne en wol in die hande betrap.

En enige man wat lag en sê brei is net vir sissies, moet dit maar vir Russell (The Gladiator) Crowe gaan sê.

Wolwinkels oral in Suid-Afrika het toe vertel van ál meer jong mans wat by hulle instroom om breigoed te koop. ‘‘Daar was selfs ’n man in leerklere op sy Harley hier,’’ het ’n breiwinkelbaas in Kaapstad vertel.

Nou ja, toe. Watter gier het jy begin aanpak in hierdie tyd van afsondering? Kleinsus Tina Clayton het in Krugersdorp begin bak om haar kop reg te hou vir manlief en die twee kinders. Maar toe het die meel afgegaan en die eerste baksel beskuit proe galsterig.

Tina Clayton se baksel beskuit in die tyd van inpe
Tina Clayton se baksel beskuit in die tyd van inperking. Foto: Verskaf
Tina Clayton van Krugersdorp se baksel beskuit. Sy
Tina Clayton van Krugersdorp se baksel beskuit. Sy bak om haar besig te hou in die tyd van COVID-19-inperking. Foto: Verskaf

Laat ons in die kommentaar weet wat jy doen saam met ’n foto of twee.

Probeer om pret te hê binnenshuis en bly veilig.