Terwyl ek die vriendelike hulpvaardigheid van die mediese personeel gade slaan, het die besef tot my deurgedring dat daar diep binne-in hulle ook die bekommernis moet skuil dat hulle en hul geliefdes met die virus besmet kan word.

Ek het besef hul vriendelike, geduldige, dappere optrede verberg die intense uitputting van hul onbaatsugtige dienslewering en verlange om op Kersdag eerder by hul geliefdes te wees.

So dikwels aanvaar ons hierdie onselfsugtige dienslewering as vanselfsprekend: “Daar moet mos maar sulke mense wees wat die werk doen!”

Dit mag so wees, maar daardie mense het ook emosies, hulle worstel ook met hul eie vrese en uitputting weens ’n onpeilbare monster. Hulle vrees ook vir hul eie gesondheid en dié van hul geliefdes.

Hulle probeer nie net die virus beveg nie, hulle tree ook op as prediker, vertrooster, berader en sielsgenoot vir wildvreemde pasiënte wat ’n eensame stryd teen die dood moet voer.

Hulle moet instaan vir die ouer, eggenoot, broer, suster of vriend van die sieke, die geliefde wat nie die persoon in die skadu van die dood kan bystaan nie.

Hulle moet die sieke se hand vashou en probeer oortuig dat alles oukei sal wees. Hierdie spesiale mense verdien ’n medalje vir hul getroue en onbaatsugtige diens aan ’n soms ondankbare wêreld.

Mag elkeen van hulle elke oomblik die nabyheid van ons hemelse Vader ervaar.

KOBUS, DANABAAI