Aan my aanneempa op Vadersdag: Pa, vandag is ek al 44 jaar lank deel van jou lewe.

Jy het my in jou arms geneem toe ek maar drie dae oud was. Ek is uitgekies om jou dogter te wees.

Van my geboorte af het jy my in jou sterk, liefdevolle arms aan die slaap gesus. Jy was die een wat nagte by my bedjie gesit het wanneer ek siek was.

Jy was die een wat my altyd liefdevol teen jou vasgedruk en in my oortjie gefluister het hoe lief jy vir my is.

Nou, 44 jaar later, is ek steeds jou poplap. Jou Jesus-dogtertjie, noem jy my steeds. Jy het my die mooi kant van die lewe geleer.

Ai, liefste pa, jy is my grootste held en mentor.

Ja, soms was pa baie kwaad vir my. Ek was nie die maklikste dogtertjie om groot te maak nie, maar jy het nooit jou hand teen my gelig nie.

Jy het my eenkant geneem en my op die regte pad geplaas.

Ek sal altyd onthou hoe jy gesê het: “ ‘Opstaan, opstaan,’ sê die duifie, ‘kam jou kuifie,’ sê die duifie,” wanneer jy gesukkel het om my vir skool uit die bed te kry.

Ai, liefste pa, jy is my grootste held en mentor.

As tiener was ek so rebels. Ek het jou lewe moeilik gemaak, maar jy het dit nooit teen my gehou nie. Jy het my altyd met die mooiste woorde getroos.

Vandag is ek ’n suksesvolle jong vrou danksy jou, my spesiale pa. Dankie vir al die Pappa Beer-drukkies.

Jou tafelgebed is steeds deel van my daaglikse roetine: “Vader God, dankie vir alles wat U vir my gesin doen . . . Ek bid dat hulle vervul sal wees met u kennis, geestelike begrip en wysheid.”

Ek wens alle pappas ’n gelukkige Vadersdag toe. Neem asseblief ’n eensame en behoeftige pa aan en bederf hom met onmeetlike liefde.

Dankbare aangenome dogter.

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.