Hy het baie name gehad. Vir my was hy Jakkals, vir my man was hy Seun, vir Linah was hy Billy Bob en vir Lucky was hy Madala.

Sy regte naam was Bielie. En hy wás een, ’n bielie van ’n yorkie, ’n bielie van ’n hond. Ek kan baie oor Bielie sê; ek kan bladsye vol oor hom skryf.

Ek kan opnoem wie sy oupa en selfs sy oupagrootjie was, ek kan sê hoeveel hy geweeg het, hoeveel jare en maande hy oud was, hoe ver hy in die park kon stap voor hy moeg geraak het.

Ek kan uitbrei oor hoe versot hy op swem was, hoeveel keer hy so ver die dam ingevaar het dat ek, rok, sandale, oorbelle en al, moes inspring om hom te gaan haal.

Ek kan dink aan hoe hy deur kasdeure gekou het agter muise aan, hoe hy katte gejaag het, van enige hoogte in enige swembad ingespring het, in watter posisies hy geslaap het.

Ek kan beskryf hoe sy hare oor sy rug geval het, hoe sy lippie aan die een kant opgetrek het vir ’n smile en hoe, wanneer ons hom geroep het, hy met die dolste vaart en sy tong al wapperend aangehardloop gekom het.

Hy was 15 jaar oud. Dit is vir haar uiters moeilik om die stoute en uitbundige karnallie ná soveel jare te groet. Foto: Verskaf

Ek kan boeke oor Bielie skryf. Maar wat ek nié kan doen nie, waarvoor ek geen woorde het nie, is hoe om vir hom koebaai te sê.

Dit was ’n Sondagoggend in Julie 2003 toe ek en Mark uit Johannesburg ry om hom in Vanderbijlpark te gaan haal. Toe die man hom aan ons oorhandig, het hy gesê: “Ek is bly ek raak van jou ontslae!”

Gou sou ons agterkom hoekom. Bielie was stout.

Hy was ’n vabond, ’n terroris. Hy het ons telefoonkabels deurgekou, my Apple-oorfone opgevreet. Een naweek het ons weggegaan en vriende gekry om tuis by hom te kom bly.

Die Sondag het die man sy kerkskoene gesoek. Een was skoonveld. Ure lank het hulle die huis omgedolwe en onder al wat ’n kussing is, gekyk.

Die middag toe hulle op die stoep sit en braai, sien die vrou ’n vreemde plant in die tuin. Toe sy nader stap om dit te bekyk, tref sy haar man se blinkleerskoen halflyf, punt in die wind, in ’n vlak graf aan: Bielie het die skoen mooi netjies loop begrawe.

Ons het alles gedoen om sy energie te tap, om daardie jakkalslyf moeg te maak: hom twee keer per dag vir stappies gevat, hom 7 000 rondes in die visdam laat swem, vir hom afstandbeheerkarre gekoop, 100 keer om die blok gaan stap.

Maar Bielie het nie moeg geword nie.

Slaaptyd het ek alles probeer om daardie wakker ogies toe te kry. Aand ná aand het ek “Slaap Pikaninie” vir hom gesing en met my wysvinger oor sy neusbrug gevryf.

Soms het dit gewerk en kon ons ’n paar uur se slaap inkry voor hy ons met oorverdowende geskal uit ons bed geruk het wanneer hy dalk die kombuishorlosie hoor tik.

Bielie het soos ’n sagte speelding gelyk toe hy klein was. Foto: Verskaf

Die tienerjare was nie makliker nie. Toe is voortplantingsdrange by die vernietigingsdrange gevoeg. Niks is ontsien nie; nie sy teddiebeer of my rekenaarkabel nie.

Jare later het dit my bekommerd gemaak, want ek het êrens gelees dit kan ’n simptoom van prostaatkanker wees.

Ek vat hom toe na ’n diere-uroloog toe (ja, ’n mens kry so iets). Ek berei my op die ergste voor en sit in die wagkamer met trane in my oë.

Sê nou net hy het net weke oor om te leef. Ná ’n klomp skanderings kom die veearts met hom om die draai, kyk my simpatiek aan en sê: “He’s just a very sexual little guy.”

Wat hy nié beetgekry het nie, het hy opgevreet of verskeur.

Ek en Mark het eenkeer KFC voor die TV geëet en die volgende oomblik het hy een van die kolonel se hoenderboudjies van die koffietafel af gegryp.

Toe ons dit uit sy kake probeer bevry, het hy dit heel ingesluk. ’n Veeartsbesoek en R600 later het hy net antibiotikum vir ’n seer keel gekry. Die boudjie het glo sy slukderm gekrap.

Sy ander gunstelingversnaperings was rou botterskorsie, aartappels en soetpatats.

‘Hy wou jou óf verskeur óf van liefde opvreet’

Male sonder tal het ek ná werk by die huis gekom net om hom langs ’n oopgeskeurde sak groente met sy poot beskermend op ’n halfgevrete knol te kry.

Daardie stuk groente is dan begrawe en weke later weer opgegrawe. So het ons dikwels soggens wakker geword met die duvet vol modder en ’n halfontkiemde aartappel tussen ons. Bielie het nie matigheid geken nie. Hy wou jou óf verskeur óf van liefde opvreet.

Hy kon die sjarmekrane oopdraai en het soos ’n mens met jou gepraat. Wanneer ek vir hom “môre” gesê het, het hy met ’n lang, hoë tjank geantwoord asof hy die dag groet: “Ahoooeeee!”

En wanneer ek tuisgekom het, het hy geglimlag dat jy net tande sien. Later, toe hy van ouderdom blind en doof geword het, het ek hom smiddae bekruip.

Hy het altyd in sy mandjie in ons kamer geslaap en dan het ek my hand na sy neusie uitgesteek sonder om aan hom te raak, net sodat hy my kon ruik.

En klokslag elke keer het hy, rumatieklyf ten spyt, wakker geword van my reuk, opgestaan en sy mensma met daardie skewe smile welkom geheet.

Dalk was John Grogan, skrywer van Marley and Me, reg toe hy gesê het: “Honde is wonderlik. Stout honde, as jy hulle regtig so kan noem, is dalk die wonderlikste van almal.”

En toe, ná 15 jaar se onverdunde stoutheid en uitbundigheid, kry ons die tyding: Ons Bieliebaps het ’n gewas aan sy milt. Hy is te oud om te opereer, sê hulle, want hy sal nie die narkose oorleef nie.

Die veearts het hom ’n paar maande gegee en sy was reg: Ons het nog twee maande saam met hom gekry.

Vir oulaas kon ons hom vir stappies neem om die huis, entjies in die kar met hom gaan ry. Vir oulaas kon ek my neus tussen sy ore indruk, sy hartklop teen my vingers voel.

Op 30 April het hy 15 jaar oud geword en ’n speelgoedskaap vir sy verjaardag gekry. Ten spyte van die blind- en doofheid, ondanks die naderende dood in sy lyf, het hy soos ’n jong hond met daardie skaap gespeel, hom met oorgawe gebyt en verskeur.

Bielie aan’t knibbel aan ’n botterskorsie. Foto: Verskaf

En toe kom die dag wat ons al 15 jaar vrees. Dit was ’n blink winterdag soos wat jy net in Johannesburg kry.

Die lug was blouselblou; die herfsgele het daarteen geskitter. Ek het besluit om Bielie veearts toe te neem. Hy het dié dag eintlik goed gelyk, daardie oggend al sy kos geëet, maar ek wou hoor of hy pyn het en wou hê hulle moet sy naeltjies knip.

Die veearts het hom ondersoek en gesê wat ek nooit wou hoor nie: Nee, hy het nie noodwendig pyn nie, maar hy kry swaar.

“Hy kry baie swaar,” het sy weer gesê, nadruklik, en ek het besef sy pleit namens hom by my.

Dit was sag en pynloos. Ons het buite op die dierehospitaal se grasperk op ’n kombers in die son gaan sit, en ek het hom vasgehou terwyl die veearts die oordosis narkose in sy are ingespuit het.

Vir oulaas het ek hom teen my vasgedruk en sy koppie het soos son en grond geruik. Hy het op my skoot aan die slaap geraak en ek het gevoel hoe sy lyfie slap word, hoe die lewe en die swaarkry hom gelyk verlaat.

Hy was versot op swem. Foto: Verskaf

Toe ek hom in die kombersie toevou, was hy onmoontlik lig en klein. Iets groots, iets gewigtigs, was weg.

Sy gees, het ek gedink, sy onstuitbare, onblusbare gees. Want in die lewe is ’n hond meer as die som van sy dele. Ek het hom huis toe gevat en Mark en Lucky het vir hom ’n graf in die tuin gegrawe.

Hamba kahle, Madala,” het Lucky gesê toe ons hom op ’n bed herfsblare in die graffie neerlê.

Sy lyfie was nog sag en warm; sy jakkalshare het nog in die son geblink.

Dit het gelyk of hy net slaap, opgekrul op sy sy.

Soos daardie gedig van Richard Middleton: A little rose among the little roses, And no more dead than they.

Eers het ons hom met droë herfsblare toegegooi en toe met grond. Bo-op sy graf het ons ’n lemoenboompie geplant.

Die boom, so sê die stukkie papier, sal elke jaar in Mei en Junie vrugte dra.