Dit was 19 jaar gelede dat ek jou die eerste keer gesien het, en ek was sommer dadelik verlief, al was ons albei nog so jonk, onervare en oningelig oor die lewe.

Jy was vir my die mooiste ou wat ek al gesien het. Als van jou was mooi – jou glimlag, jou oë en ook jou hart.

Elf jaar daarna het ons paaie weer gekruis en ons het mekaar beter leer ken; ons was so gelukkig saam.

Ons het toe getrou en is met pragtige kinders geseën. Maar ons geluk het verander in ’n glashuis wat aan skerwe gespat het nadat die dwelms jou van my en ons kinders kom steel het.

Ons is nie meer eerste in jou lewe nie. Ons wag baie nagte tevergeefs dat jy huis toe kom. Wanneer jy met dagbreek nie tuis is nie, vrees ons vir jou veiligheid.

Jy het jou lewensuitkyk, jou drome en geloof weggesmyt in ruil vir daardie R300-plastieksakkies en ’n strooitjie.

Jy het alles verloor. Maar dis nie net jy wat alles verloor het nie. Jy het die dwelmduiwel toegelaat om in ons huis in te kom en ons hele gesin van als te beroof.

Ons toekomsdrome as egpaar, ons kinders se toekoms, ons geluk, ons lag, ons vrede en als wat mooi is of was.

Jou verslawing is die enigste wenner. Maar steeds wens ek daardie donker gat waarin jy jou laat insuig het, sal jou weer uitspoeg.

Dat die dwelmduiwel sy greep op jou sal losmaak en jou vir ons teruggee – die man en pa wat ons eens geken het – sodat ons weer trots kan wees op jou.

Sodat ons weer op jou kan vertrou. Hoekom moes ons van die regte jy beroof word? Ons sal bly hoop, glo en bid. Jou vrou

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.