Andreas Diacon, hoof van TASK en professor verbond
Andreas Diacon, hoof van TASK en professor verbonde aan die Universiteit Stellenbosch. Foto: TASK

Dié wetenskaplike, longgeneeskundige en stigter van die medisyne-navorsingsgroep TASK, is met verskeie plaaslike en internasionale pryse bekroon en al as ’n Bill Gates Hero in the Field aangewys

Prof. Andreas Diacon (58)

Ek het in Switserland grootgeword op ’n dorpie langs die Constance-meer met 500 mense, net soveel koeie en twee keer soveel appelbome. Ek was meer vertroud daarmee om ’n koei te help kalf as enigiets wat met die stadslewe te make het.

My pa, ’n mediese dokter, het ook ses maande van die jaar in ’n praktyk in die berge gewerk. Dus het ek in die winter omtrent altyd ski’s aan my voete gehad.

Ek het geweet ek wil geneeskunde studeer, maar anders as my praktisyn-pa, is ek meer van ’n wetenskaplike; iemand wat ’n mediese probleem wil probeer oplos wat miljoene mense kan help.

Ek het eers in ’n klein distrikshospitaal gewerk, waar ’n jong dokter snags bevallings hanteer en bedags blindederm-gevalle; toe op ’n groter plek met long- en hartchirurgie gehelp; mettertyd in intensiewe sorg geïnteresseerd geraak; en toe, deels oor my liefde vir ski, in ’n bergkliniek oftewel sanatorium in Davos gewerk waar ek vir tuberkulose-pasiënte verantwoordelik was.

Ek het die verhaal van tuberkulose (TB) fassinerend begin vind, en algaande besef ons verstaan ná honderde jare steeds nie regtig hierdie siekte nie.

Daar in Davos, omtrent 25 jaar gelede, het ek ook ’n voormalige krygsgevangene in die Iran-Irak-oorlog gesien . . . my eerste pasiënt met totaal medisyneweerstandige TB. Ek moes alles wat ek kon oor weerstandige TB naslaan, en so het ek skryfwerk van ’n prof. Peter Donald van Stellenbosch raak gelees. Ek en my baas het hierdie pasiënt eindelik gesond gekry met middels uit Amerika.

Daarna het ek in Zürich in medisyne en toe longe gespesialiseer. En toe kom ek Suid-Afrika toe . . . dis al omtrent 20 jaar gelede.

Ek het aanvanklik hierheen gekom vir longgeneeskunde, maar mettertyd gereken: Daar’s nou ’n nuwe generasie TB-middels, en ek kan deel van die oplossing wees. 

Ek het prof. Donald toe hier in Suid-Afrika ontmoet – een van die bekwaamste, nederigste mense wat ek ken. Hy was ’n spesialis in kinder-TB by Stellenbosch. Ek het een van sy lesings bygewoon en agterna aan hom gesê: ‘Meneer, jy weet dit nie, maar jy’s eintlik my held.’

Later het hy vir my gesê dis ’n groot jammerte dat niemand dalk sy navorsing gaan voortsit nie omdat daar nie geld is nie.

Ek het gevra hy moet my bel as enige geleenthede opduik. Twee weke later sê hy vir my (die farmaseutiese maatskappy) Janssen in België wil hê hy moet ’n nuwe TB-middel toets. Maar hy was toe afgetree. Hy kon my ’n paar wenke gee, maar ek “moes alles verder self uitsorteer”.

En ek het gedink: Dís wat ek met my lewe wil doen.

Ek het vyf mense gevind wat my met die werk gehelp het – en omtrent 12 jaar later het hierdie middel toe die eerste nuwe TB-medisyne in vyf dekades geword. In daardie tyd het ek ál meer van ’n kliniese dokter na die ondersteuning van medisyne-ontwikkeling in die TB-veld migreer.

Vandag het ons 150 werknemers by die medisyne-navorsingsgroep TASK, waarvan ek die stigter was en waar ons behandelings en entstowwe vir verwaarloosde siektes help ontwikkel.

Prof. Diacon ontvang die wetenskapprys by die Inte
Prof. Diacon ontvang die wetenskapprys by die International Union Against Tuberculosis and Lung Disease se 2016-konferensie – een van vele internasionale en plaaslike eerbewyse, insluitend een van Bill Gates. Foto: Facebook

Ek het mettertyd opgemerk jy kan as ’n dokter in Suid-Afrika baie meer bydra. In Switserland is jy net nog ’n goed opgeleide spesialis en daar het jy alles wat jy nodig het. Hier’s dit ’n ander storie. Ek het hier ’n besonderse uitdaging gevind. 

Wat het ek omtrent Suid-Afrika leer liefkry?

Die eerste woord wat by my opkom is dankbaarheid. Daar’s nie daardie sin van aanmatiging hier nie; dat alles dadelik reggemaak moet word nie. As jy mense op ’n manier kan help, waardeer hulle dit regtig. As jy as ’n Europese spesialis hier goeie advies kan gee oor wat gedoen moet word, kan jy ’n groot verskil in mense se lewe maak. En dít vind ek vervullend.

Op ’n ander vlak: Jy kan nie Suid-Afrika se natuur- en buitelewe klop nie. Dis absoluut die beste wat ek al gesien het. En ek het ’n stad gevind waar jy in die middel daarvan, vanaf Leeukop, kan valskermsweef. Dis ongehoord. 

Omdat ek nooit ’n geankerde soort mens was nie, pas ek maklik in – ook hier. Ek het gou leer braai en aan die linkerkant van die pad leer ry, en om taxi’s te vermy!

TASK draai grootliks daarom dat ons beter mediese middele na mense toe wil bring wat hulle regtig nodig het, maar nie noodwendig voor kan betaal nie. 

Bill Gates, byvoorbeeld, steun hierdie soort werk, asook die Wêreldgesondheidsorganisasie en Europese Unie. Hulle maak finansiering beskikbaar vir die ontwikkeling van beter medisynes en doeltreffender ingryping waar mense dit nodig het. TB is een so ’n geval, MIV en malaria is ander. 

Die farmakologiese bedryf belê baie geld in die ontwikkeling van ’n middel en hulle moet dit terugkry. Dus is daar ’n soort sosiale verdrag: Dit behels ’n farmakologiese maatskappy wat graag ’n middel en kundigheid sal voorsien, ’n Bill Gates wat graag daarvoor betaal en iemand soos ons wat graag die navorsing vir jou doen.

Veral omvattende middelweerstandige TB (extensively drug-resistant, XDR-TB) was in onlangse jare so ’n uitdaging omdat al die medisynes wat voorheen gehelp het, nie meer gewerk het nie. Die bakterie het weerstand teen hulle opgebou. In so ’n situasie sal die betrokke pasiënt ook ander met dieselfde bakterie besmet. Hulle het dan uit die staanspoor XDR-TB, basies ’n siekte wat jy nie kon genees nie.

Maar dis waar die nuwe middels inkom. Ons het nou ’n behandeling wat XDR-TB binne ses maande kan genees – en die Wes-Kaap was die eerste om dit te gebruik. 

XDR-pasiënte se oorlewingskoers oor drie jaar was voorheen omtrent 14%. Mense het net gesterf. Maar met die nuwe middels is hul oorlewingskans tot vyf keer hoër. Dié middels het wel newe-effekte, maar hulle oorleef.

In Kaapstad is sulke pasiënte gewoonlik in “XDR-sale” gehospitaliseer, wat hulle nie sommer weer verlaat het nie. Maar daardie sale kon nou gesluit word; die pasiënte is almal daar buite op die behandeling. 

Laas jaar het ons die teorie begin bekyk dat die baie ou TB-entstof BCG dalk teen covid-19 kan help. 

Prof. Diacon en dr. Caryn Upton kyk toe terwyl Mic
Prof. Diacon en dr. Caryn Upton kyk toe terwyl Michelle van Rooyen ’n vrywilliger met BCG herinent. Foto: Verskaf

BCG is eens vir TB ontwikkel en dwarsoor die wêreld gebruik. (Die meeste Suid-Afrikaners het dit as babas gekry.) Eintlik is dit nie baie doeltreffend teen TB nie, maar daar was talle waarnemings dat dié wat ingeënt is moontlik ander voordele daaruit kry.

Ons kinders wat daarmee ingeënt is se sterftesyfers weens alle moontlike siekteoorsake was laer. Die teorie is dat BCG die immuunstelsel “herprogrammeer” om uit te kyk vir dinge waarop dit nie andersins sou let nie.

En ek het gedink: Ons het BCG onmiddellik beskikbaar, waarom nie kyk of dit ook teen covid kan help beskerm nie? Dus het ons 1 000 gesondheidswerkers in ’n herinenting-toetsprogam hetsy BCG of ’n plasebo gegee. Ons behoort die finale resultate begin volgende jaar te hê.

Die meeste van ons werk draai steeds om nuwe TB-middels, maar omdat ons die infrastruktuur het, help ons nou ook met die verspreiding van die covid-entstof na gesondheidswerkers.

Interessant genoeg was daardie eerste nuwe TB-middel wat ons getoets het toe ek TASK begin het afkomstig van Janssen, wat deur Johnson & Johnson besit word. En hulle het ons ook nou gevra om, soos verskeie ander, met die toetsing te help. 

Intussen het ons ’n skerp afname in TB-diagnoses tydens die inperking opgemerk . . . en nou skiet hulle die hoogte in. Ons dink baie pasiënte wat andersins die klinieke sou besoek het om met TB gediagnoseer te word, het uit vrees vir covid weggebly. 

Dié mense kom nou met ’n ses maande-vertraging in die stelsel in en ons het nou meer TB as voor covid. En dis wat ’n mens moes verwag: TB word immers deur hoes oorgedra, en as jy dus iemand daarmee vir maande saam met baie ander inperk, is daar geen manier om dit te ontsnap nie. Die prys wat jy betaal vir covid-voorkoming is meer TB.

My boodskap aan mense wat oor inenting twyfel?

As ek dit met ’n strokie moes illustreer sou ek twee poele teken – een met ’n goudvis daarin en die ander met 10 haaie. En dan sal ek iemand teken wat kan kies om in die een of die ander te spring. Maar hy spring in die haai-poel, want hy’s nie seker of die goudvis gevaarlik kan wees nie.

Dis doodeenvoudig. Ek kan nie begryp waarom iemand nie ingeënt sal wil word nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe