Ons hoor soveel verhale van die trauma waardeur mense moet gaan. Verkragting, huishoudelike geweld, die afsterwe van ’n geliefde weens ’n chroniese siekte of sinnelose padongeluk, gebroke verhoudings . . .

Trauma het soveel vorme.

Gun my dit asseblief om my eie verhaal van trauma te deel. Dié van verwerping.

Glo my, as dit eers sy kloue in jou ingeslaan het, bly dit by jou.

Vir my het dit begin toe ons om halfagt in die paradekamer instap. Nes aan die begin van elke werkdag.

Behalwe vir een ding: Dis my 60ste verjaardag.

Ons hoof wens my geluk en verdaag ons, maar net daarna roep sy my alleen na haar kantoor toe terug. Saaklik word ek meegedeel dat my dienste nie meer benodig word; ek is nou te oud.

Dit nadat ek net ’n paar dae tevore ’n aanprysing vir my werk in die afdeling gekry het. My hele menswees stort in duie.

Almal weet waarmee ek elke dag worstel met my man wat kankerbehandeling ontvang, ons stryd met finansies en hoe ek my eie pyn wegsteek sodat ek net my beste vir my werk kan gee.

Terug by my lessenaar heers ’n doodse stilte in die kantoor. Niemand wil my in die oë kyk nie.

Terwyl ek my laaie uitpak, kom staan my hoof voor my en slaan die laaste spyker in my siel: “Onthou, jou werkdag eindig eers vieruur en jy moet vandag se middagparade nog bywoon.”

Huil sal ek nie, want die genot van my seer is hulle nie beskore nie.

My laaste woorde daardie dag aan die res was: “Moenie skrik as julle eendag iewers ’n haan hoor kraai nie.”

Eers in die veiligheid van my motor, op pad huis toe, het die damwal gebreek.

– A

Skryf vir ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die ­redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300.