Ek skryf hierdie ware verhaal vir al die mense, en veral die derduisende kinders, wat weens die resessie of ander faktore nie ’n lekker Kerstyd met geskenke gehad het nie.

Self hou ek nie van Kersfees nie; nie omdat ek dink ons moenie die geboorte van Jesus vier nie, maar omdat Kersfees ’n dolle gejaag na wind en wins geword het.

In 1946 het ons gesin uit Sudetenland gevlug met net die klere aan ons lyf en twee koffers.

Ná heelwat ontberings het ons eindelik verblyf by ’n boer in Beiere gekry by ’n dorpie genaamd Hofstetten.

Dit was ’n uiters koue winter en ons het baie swaargekry. My ma het vir my gesê dat ek daardie jaar niks vir Kersfees sou kry nie.

Ek was sewe jaar oud, maar het dit so aanvaar.

Oukersaand, wanneer in Duitsland geskenke uitgedeel word, het aangebreek.

My ouers het die deur na ons kamer oopgemaak, en daar staan ’n Kersboom, versier met regte kerse en behang met koekies wat my ma van bruin meel gebak het.

Van papierpap het hulle diertjies gemaak en geverf. Ek kon my oë nie glo nie en sê toe vir my ouers ek het nooit verwag om ’n Kersboom te sien nie.

Ek kon nie uitgepraat raak oor hierdie wonderlike Kersfees nie.

My ma het jare later vertel sy het uit die kamer gestap en bitterlik gehuil omdat ek so opgewonde oor die beskeie Kersviering was.

Ek het daarna nog baie Kersfeeste beleef met groot geskenke, en ek kan nie een van hulle onthou nie.

Maar dit is die Kersfees van 1946 wat ek nooit sal vergeet nie. - H.P. Klincer, Ceres