URSULA NICOL (36), MA VAN DRIE

’n Huis met drie dogters en ’n man – almal onder een dak tydens lockdown – dis mal.

Heel aan die begin was dit nogals lekker vir almal. Ons het bordspeletjies gespeel en nog met mekaar gesels.

Maar nou is almal verveeld en niemand het eintlik iets meer om vir mekaar te sê nie.  Die kinders wil nie meer PlayStation speel nie en hulle is moeg om heeltyd Netflix te kyk.

Gelukkig maak ek nie alleen die huis skoon nie; elkeen moet my help.

Maar dit gaan nie altyd so maklik nie. Wanneer die kinders by my kla en sê hulle is verveeld, deel ek vir hulle huistakies uit – dán skarrel hulle in alle rigtings. 

Darem kan ons nou uitgaan in die oggende om te gaan stap.  Maar dan kry jy ander ouers wat hulle kinders sommer enige tyd van die dag laat uitgaan, en jy moet vir jou kinders verduidelik waarom hulle nie ook by hulle maatjies kan gaan kuier nie.

Dít bring baie spanning in die huis en maak dinge soms moeilik. 

As ’n ma het ek amper nooit enige alleentyd nie. Nóg minder nou met die lockdown.

Soms, in die oggende wanneer almal nog slaap, kan ek bietjie alleen wees, maar ook nie vir lank nie, want dan word my man wakker en dan een vir een ons dogters.  Dan moet almal ontbyt kry.  Saans moet ek vir almal kos maak.

Pasta of hoender is die maklikste. Ons sal voor die televisie gaan inskuif, ons oë toemaak, en my jongste dogter sal begin bid.

Elke aand sê sy dieselfde rympie op: “Dankie, Heer, vir die kos; voed ons liggame asseblief daarmee. Amen.”

Ek dink nie eens sy verstaan heeltemal wat “voed ons liggame” beteken nie.

Maar sy is al een wat wil bid.

Dan kyk ons almal ’n episode van That ’70s Show of Fresh Prince of Bel Air saam. Ons wou South Park kyk, maar het gou besef dis nie geskik vir kinders nie.

Bedags bak ek ook tuisgemaakte brood en muffins sodat ons so min moontlik hoef winkels toe te gaan.

Ek hou van bran-muffins, maar die res van my gesin soek altyd vanilla, so dan maak ek maar die vanilla-soort. 

Dis maar wat ’n ma doen. Ek voel gereeld, gerééld dat ek ’n mislukking as ’n ma is.

Dat ek soveel beter kan doen.

I must have it all together, maar ek het nie. 

Sommige ouers gee hulle kinders alles wat hulle wil hê, en ek kan skaars vir my dogters iets gee.

Dit breek my hart. Ek wens ek kon vir hulle alles gee. Hulle vra gereeld vir goed wat hulle regtig nodig het, dan moet ek sê nee.

Dan wonder ek: Doen ek die regte ding? Wat moet ek toelaat en wat nie?

En daar is soort van ’n kompetisie tussen ander ma’s.

Want van die ouers sal vir hulle kinders enigiets koop of vir hulle toestemming gee om enigiets te doen – en dan sê jý nee. Dan verstaan my kind nie as ek dit vir haar probeer verduidelik nie. 

En dan voel ek soos ’n mislukking.

‘Die kinders wil nie meer PlayStation speel nie en is moeg vir Netflix’

Maar ek dink steeds om ’n ma te wees is die beste werk wat daar kan wees.  Ek was nog altyd ’n ma.

Ek ken niks anders nie. Toe ek 19 was, het ek my eerste dogter gekry. Ek was pas klaar met skool en het gedink ek is ’n grootmens, maar ek was baie ver van dit gewees.

Ek het nie ’n idee gehad wat dit beteken om ’n ma te wees nie. 

Die dag wat ek my ouers moes sê ek is swanger, onthou ek nog duidelik. Ek was heeltyd moeg; ek was naar en het gesukkel om te slaap.

Toe gaan ek dokter toe en die swangerskaptoets was positief. 

Ek was vreesbevange om my ouers te sê. Toe ek eindelik die moed bymekaarskraap, was hulle só kwaad vir my. 

En ek kon hulle nie blameer nie. Hulle het daardie dag ’n láng praatjie met my gehad. 

Maar toe word die mooiste klein dogtertjie gebore, en sy draai ons almal om haar pinkie. Dit was love at first sight

Maar dit was baie, baie moeilik om ’n kind op so ’n jong ouderdom te kry. 

Gelukkig het my ma en pa my vreeslik baie gehelp. 

Ek het my man ontmoet toe ek 23 was – in die rokersarea by die kerk. Ek het ná die diens gaan sit en rook, toe kom sit hy langs my. En dis dit.

Ons is nou vir 11 jaar getroud. Ons troue was niks fancy nie; ons het net so 30 mense genooi.

Ons het op ’n paintball-plaas getrou, want ons albei was mal daaroor om paintball te speel.

Ek dink ná die seremonie het almal Chinese geëet; ek kan nie so mooi onthou nie.

En daarna het ons paintball gespeel. Nou dít onthou ek goed, en dit was wonderlik! En vandag is ons kinders die middelpunt. 

Maar dit is nie altyd maklik nie.  Een van ons kinders is vroeër erg geboelie by haar skool. 

Sy sou tranerig by die huis kom, en wanneer ons haar daaroor uitvra, wou sy niks sê nie. Sy was bang sy sê iets, dan gaan ons na die hoof toe en dan word die geboelie erger. 

So ons het nooit besef hoe ernstig dit werklik was nie. Later vind ons toe uit twee seuns het haar gespot oor hoe sy lyk, dat sy te maer is.

En meisies sou vir haar voice notes stuur en sê sy moet doodgaan.

Nadat my dogter daarna geluister het, delete hulle die boodskappe sodat sy dit nie vir ons kan speel nie. 

Eendag loop ek in haar kamer in en sy huil.

Ek sien toe sy het ’n prentjie geteken van ’n meisie wat op ’n rots sit met haar bene wat so afhang, asof sy wou spring. 

Van die tekeninge wat haar dogter gemaak het toe s
Van die tekeninge wat haar dogter gemaak het toe sy voor die inperking by haar skool geboelie is.Foto: Misha Jordaan

Toe besef ek ons moet nou iets doen, en nét voor die lockdown haal ons haar toe uit die skool.  Ek het toe ’n Facebookblad begin. Een vir ouers wie se kinders ook geboelie word op skool.

Binne twee dae was daar meer as 300 ouers op die blad – ouers wie se kinders geboelie word en hulle stories deel.

Dit is skrikwekkend hoe baie dit gebeur. Die hartseerste is dat die meeste ouers nie eens besef dit gebeur met hulle kind nie, want die kind is te bang om iets te sê. 

Dié dogter van my, die een wat geboelie was, wil vreeslik graag eendag ’n mariene bioloog word. En ons gaan als in ons vermoë doen om haar gelukkig te maak en daardie droom vir haar waar te maak. 

Dit het sy ups and downs, maar daar is regtig niks beters as om ’n ma te wees nie.

Dit laat my dink aan daardie prentjie wat op Facebook rondgestuur word; het jy dit al gesien?  Dit sê: The best thing you can feel around your neck is the arms of a child

My jongste word nou groot en wil nie meer op my skoot sit nie. Vroeër wou sy alles saam met ons doen; nou wil sy meer selfstandig wees en dinge alleen doen.

En ek moet haar laat gaan. Ek moet hulle al drie eendag laat gaan.  Ek is verskriklik bang daaroor.

Ek weet nie hoe om nié elke dag ’n ma te wees nie.