Haar foon het tydens die uurlange gesprek onophoudelik gegons. “Wie kan jou nie uitlos nie, meisie?” het ek haar later gevra.

Dit was ’n ou wat op Instagram by haar DM’s ingeglip het en haar toe op WhatsApp lastig geval het. Sy het die fout gemaak om uit lockdown-verveling en wel, eensaamheid, haastig vir hom haar nommer te gee.

Ek oordeel glad nie – as enkellopendes wat in ’n wêreldwye pandemie vasgevang is, is ons kans om ’n potensiële vryer te vind grootliks in die hande van die wisselvallige sosiale media. En die sosiale media sou nie eens onder normale omstandighede my eerste keuse gewees het nie. 

Ek was nog nooit ’n aanhanger van iemand aanlyn ontmoet nie. Ek het net ’n paar uur op Tinder gehou voor ek grasieus onttrek het en het genoeg van Bumble gehoor om dit liewer te vermy. 

Die waarheid is jy weet eenvoudig nie wie die mens aan die ander kant is nie. En omdat die sosiale media ons so toeganklik vir vreemdelinge gemaak het, verg dit amper geen moeite om iemand se aandag na te jaag nie. 

Ek is mal oor ’n goeie liefdesverhaal, en om te moet vertel hoe ek my maat in die sosiale media ontmoet het, is eenvoudig nie vir my nie. 

Maar hier is ons nou, verplig om die wonderlike aanbiedinge van die tegnologie in te span om met ou vriende in aanraking te bly en hopelik nuwes te ontmoet. 

Koffieafsprake in oulike restaurante het in video-oproepe verander.

En buiten die hoop dat die vonk in lewende lywe so sterk is soos oor die telefoon, is daar nou die Wi-Fi-verbinding om jou oor te bekommer. 

Niks is immers erger as om halfpad deur jou sin deur ’n diensverskafferprobleem onderbreek te word nie. Voor die pandemie was ek nie naastenby ’n afspraakkenner nie. 

Verlede jaar dié tyd het ek ’n pynlike uitmaak beleef (ons het sowaar op Instagram ontmoet) en ná maande van die gewone herstel en verwerking was ek eindelik reg om weer die liefde te beproef.

Die afsprake was agtermekaar. Terwyl ek aan tafel oorkant iemand sit, was dit maklik om binne die eerste paar sekondes te bepaal of ek hom ’n plek in die vriendskap-, wil-jou-nooit-weer-sien-nie- of tweede-afspraaksone wou gee. 

Kort voor lank het een van die moontlike hofmakers my volle aandag getrek en ek het my kortstondige koffieafspraakuitstappies vaarwel toegeroep. 

Die daaropvolgende maande was salig. Hy was wonderlik en ek was verlief. 

Maar dit was ’n langafstand en my behoefte aan fisieke interaskie het ’n demper op ’n amper volmaakte scenario geplaas. Toe kom meng die coronavirus onbeleefd by ’n reeds moeilike situasie in. 

Die onsekerheid oor of ons mekaar weer sou sien en die voortdurende gevoel van afgeslote voel, het tot die einde van ons liefdesverhaal gelei.  

Hy is ’n gesondheidsorgwerker onder ontsettende druk en het gesukkel om ’n uitlaatklep vir sy stres te vind. Dit was moeilik om te aanskou, maar met honderde kilometers tussen ons was my hande afgekap.

Ek was hartseer – sou hierdie onsigbare vyand my werklik ’n verhouding kos?

Maar mettertyd het ek besef die coronavirus en daaropvolgende inperking het kwessies na vore gebring wat in elk geval later hul lelike kop sou uitsteek. 

Eintlik moet ek die virus bedank dat dit my ’n voorsprong gegee het. Ek is net mooi terug waar ek dié tyd verlede jaar was, behalwe dat ek nou nie veel van ’n keuse het oor hoe lank ek tyd vir myself sou nodig hê voor ek reg is om weer uit te gaan nie. 

Dit sal besluit word deur die verspreiding van ’n dodelike pandemie, wetenskap en die regering. Ek het onwillig na die sosiale media teruggekeer, maar soos my vriendin taamlik gou belangstelling verloor. 

Jy kan net soveel boodskappe en stemboodskappe stuur voor die nuwigheid vervaag. Ek is dalk ’n millenniër, maar geen verhouding, hetsy romanties of vriendskaplik, voel vir my eg tensy dit in die regte lewe gebeur nie. 

Ongelukkig is dit nie nou moontlik nie. 

Die liefde is dalk ’n waagstuk, maar dit beteken nie jou gesondheid moet op die spel wees nie. Ek bly eerder by die huis, veilig en enkellopend tot die slagveld van liefde weer gereed is om te betree. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.