Binne net een maand het my leefomgewing verander van die ouerhuis waarin ek grootgeword het na ’n woonstel en vandaar na net ’n bed. In bejaardesorg of, soos dit veel beter in Engels beskryf word, frail care.

Almal moet daarop bedag wees dat ouderdom soos die spreekwoordelike dief in die nag kom; ’n inbreker wat die huis kom stroop en alles verniel voor hy jou broos, gekneus en alleen agterlaat.

Ons beplan seker almal ’n deel van ons lewe en praat oor ons oudag. Maar moenie net aanvaar jy is daarop voorbereid nie. Jy aanvaar die krag van jou vlees en beendere as vanselfsprekend, en eendag verlaat dit jou net.

Skielik is jou houvas op die lewe skamel. Murmelgeluide en skuifelende voete, trae bewegings.

En die swaarste van als is seker om afstand te doen van so baie: van jou besittings, tyd, die vryheid om te beweeg en jou menswaardigheid. Dit kom voor jy besef en die skok is geweldig.

Vanaand staan my tafel met sentiment en herinnering volgepak. ’n Leeftyd van versamel en bymekaarmaak. Van kleintyd af groei dit saam met my.

Maar eintlik is dit ook net grassade in die wind. Soos ’n ryp granaat wat nou oopbars en sy pitte verloor.

Die dae van sit en kuier is vir eers verby.

Elisabeth Eybers het dit seker alles geweet toe sy dié treffende woorde geskryf het: Wie laaste lag, lag roekeloos en sag.

– Lynette strydom, Port Elizabeth

Skryf vir ons