reon zeff het homself geleer om sandbeelde te skep
Reon Zeff het homself geleer om sandbeelde te skep. Foto: Verskaf

REON ZEFF (51), SANDKUNSTENAAR 

Ek het in Johannesburg grootgeword. In die kleuterskool was ek die eerste seuntjie in die sandput en die laaste een uit. Ons het toe ek ’n kind was byna elke Desembervakansie Kaapstad toe gekom. As ons hier aankom, het ek my tasse neergegooi, vir my ma en pa tot siens gesê en see toe gegaan.

Die see het my verwonder. Net om by die see te wees, die water te voel en die rotspoele te verken. Tydens daardie vakansies het ek op Clifton se strand verlief geraak. Dit was die mooiste strand wat ek al gesien het.

In st. 6 het ek in Kaapstad by Bishops College skoolgegaan, want dis ’n wonderlike skool. Dit was toe moeilik om baie by die see te kom omdat ek in die koshuis was. Ek het twee jaar later teruggetrek Johannesburg toe om naby my gesin te wees.

hy rig dit soms selfs binne die getymerk op waar d
Hy rig dit soms selfs binne die getymerk op waar die water daaroor kan spoel. Foto: Verskaf

Ek het nog altyd ’n liefde vir binnenshuise ontwerp gehad. Op skool het baie van my vriende groot en pragtige huise gehad en ek was altyd geïnteresseerd daarin om te sien hoe verskillende komponente saamgevoeg is. Ek is ná skool terug Kaapstad toe om binnenshuise ontwerp te studeer.

Ná my studies het ek byna twee jaar in New York gewoon en by my broer, Marc Zeff, gaan werk. Hy’s ’n argitek.

Eagle today guys...enjoy...)

Posted by Reon Zeff on Tuesday, 9 February 2021

Ek het toe nooit binnenshuise ontwerp gedoen nie. Ek wou nie iemand word wat elke dag agter ’n rekenaar sit en ontwerpe doen nie. Daarom het ek begin om vir ’n ruk muurskilderye te verf en handgemaakte kuns geskep en dit aan buitelandse en luukse interieurwinkels verskaf.

Ek’t net hierdie ingebore passie gehad dat ek dinge in sand wou skep.

Eendag, seker so 20 jaar gelede, sit ek op Clifton se strand. Ek het ’n roomysstokkie gevat wat op die strand gelê het en daarmee ’n stokpiramide gemaak – en dit het my passie ontketen. 

Ek het daarna elke dag Clifton toe gegaan en myself geleer om sandbeelde te maak en ek het nog nooit teruggekyk nie. Ek het nie eers geweet dat dié kuns werklik bestaan nie en het ook nie internet gehad om iets te google nie. Ek’t net hierdie ingebore passie gehad dat ek dinge in sand wou skep.

My oorlede pa, Clive, het vir my gesê: “Reon, moenie ’n idealis wees nie.” Ek het sy woorde net uit my kop probeer kry en aangehou.

My pa is op 29 Februarie 2012 aan kanker oorlede. In sy laaste dae het ek ’n groot werk by Caltex losgeslaan en hy het toe vir my vertel hoe trots hy op my was en dat ek met die sandkuns moet aanhou. My ma, Maria, lewe nog. Sy is 79 jaar oud en is vir my die belangrikste vrou wat op hierdie aarde loop. 

weens die inperking bou hy sy beelde sedert oktobe
Weens die inperking bou hy sy beelde sedert Oktober voor die Ons Huisie-restaurant in Bloubergstrand. Foto: Verskaf

Daar is verskeie redes hoekom ek daarvan hou om met sand te skilder, maar dis meestal oor die vreugde en verwondering in mense se oë wanneer hulle sien wat ek geskep het. Dit bring vir my soveel vreugde. Almal sê ek is so talentvol, maar ek is nie.

Ek is net God se instrument en ek dank God elke dag vir my geskenk.

Behalwe vir die sand en water gebruik ek paletmesse en ’n graaf. Almal sê ek sit gom of sement binne-in, maar dis nie waar nie. Dis soos wat die natuur sandsteen maak; ek bespoedig net die proses.

Soms sou ek dit doelbewus in die getymerk bou sodat dit die werklike sandkuns kan omvat.

My sandbeelde het keer op keer inmekaargeval toe ek daarmee begin het. Maar jy leer deur te leer hoe die fisika van die sand werk. Ek het die manier hoe die sand val, begin verstaan en hoe om sand te sny en nie gulsig te wees om te veel te sny onder nie. 

Jy kan nie aan die onderkant begin en dan aan die bokant kerf nie, want jou werk aan die onderkant sal op die sand val. Jy moet bo begin en ondertoe werk.

Aan die begin het ek drie tot vyf ure aan een kunswerk op die strand gewerk. ’n Hond of kind sou dit altyd kom vernietig. Toe besluit ek om dit op rotse te bou. Ek het al sandkastele en ’n akkedis op die rotse gebou. Aanvanklik het ek my sandkuns van die getymerk af gebou en dit het gehou.

Soms sou ek dit doelbewus in die getymerk bou sodat dit die werklike sandkuns kan omvat. Ek het al sandbeelde op byna elke strand in Kaapstad geskep.

toe die strande onlangs weer oopmaak, was reon ver
Toe die strande onlangs weer oopmaak, was Reon verheug. Foto: Verskaf

Oor die jare was wind nog altyd my grootste vyand. Ek hou daarvan om in die son te wees en sorg dat ek sonskerm en ’n hoed dra en werk soveel moontlik onder ’n sambreel.

Die beste dag om te werk is op ’n bewolkte dag, wanneer dit koel is. ’n Bietjie motreën doen ook niks aan my sandbeelde nie, maar harde reën kan dit vernietig. Ek kan enige sandbeeld skep, maar hou veral daarvan om diere te skep.

Ek het al vir groot ondernemings ook sandbeelde geskep. Vir Volkswagen het ek die binnekant van ’n Polo Jetta met ’n motorenjin geskep.  As ek sandbeelde vir ondernemings skep, gebruik ek nie seesand nie. Jy mag nie seesand wegdra om te gebruik nie en jy mag ook nie vreemde sand na die strand neem nie.

Dan gebruik ek bousand wat eintlik riviersand is en baie beter as seesand is. Seesand het nie silikon of klei in nie. Bousand is dus die beste.

Walrus today guys...enjoy the beach!!!!..)

Posted by Reon Zeff on Tuesday, 2 February 2021

Ek bly deesdae in Sunningdale en is sedert Oktober verlede jaar buite Ons Huisie-restaurant in Bloubergstrand. Die promenade is reg voor Ons Huisie.

In die tyd wat mense nie op die strande mag gekom het nie, het ek sommer daar op die promenade met seesand kunswerke geskep. Nou kan bejaardes dit ook sien wat nie tot op die strand kan loop nie. So kan hulle my van naby sien en met my gesels.

Vir die eerste keer in 20 jaar moes ek ’n bordjie voor my werk sit waar ek vir hulp vra

Afhangend van die grootte en detail, vat ’n kunswerk my so vier tot vyf ure om te voltooi. As dit onaangeraak is, kan my sandbeelde vir minstens sewe dae staan. Mense kom elke oggend om daarna te kyk. Ek is elke dag van die week hier behalwe Maandae, dan rus ek.

Voor die inperking het ek die sandkuns vir die pret gedoen. En verniet. Ek sou net geld vra as iemand vir my vra om iets spesiaals te maak.Vir die eerste keer in 20 jaar moes ek, weens die inperking, ’n bordjie voor my werk sit waar ek vir hulp vra. Dis hoe ek oorleef, want daar is geen werk daar buite nie. 

Tydens die inperking in Maart was ek vel en been omdat ek nie kon werk nie, en ek het regtig depressief geraak. Ek het net voor die inperking ’n groot werk vir ’n korporatiewe maatskappy verloor vir wie ek sandkuns sou doen. Ek sou deur die hele inperking kon kom as ek die werk gehad het. Goddank, my ma en vriende kon help.

hy verf ook op klippe
Hy verf ook op klippe. Dit en muurkunswerke was sy bron van inkomste terwyl die strande gesluit was. Foto: Verskaf

Ek was verpletter toe die strande toegemaak het. Ek moes geld maak uit my klippe en muurskilderye. Ek verf driedimensionele pikkewyne, spinnekoppe, haaie en dolfyne op klippe. Ek verskaf dit aan toonaangewende interieurwinkels in Kaapstad. Hulle koop my goed al vir jare.

Toe die strande weer oopmaak, was ek verheug en so gelukkig. Ek het die dag ná die aankondiging my swemkostuum aangetrek en behoorlik vir die water gaan groet. Ek het sedertdien elke dag ’n kunswerk geskep en het pas die kop van ’n Tyrannosourus Rex voltooi.

Mense wil meeste van die tyd aan my kunswerk raak, en daarom het ek ’n teken wat sê moenie daaraan raak nie. Mense vra gereeld hoe lank dit my neem om ’n sandbeeld te voltooi. As ek ’n R5 gehad het vir elke keer wat ek dié vraag gevra is die afgelope 20 jaar, het ek nou ’n huis in Clifton gehad.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe