Oom Rasper skop die ou weermag-Harley aan die gang.

’n Ontploffing weergalm oor die winterwit werf, gevolg deur ’n paar proesgeluide. Dan fire al vier pistons. Ek en Stoffel is in die sidecar ingebondel, styf in ’n dik army-jas toegewikkel.

Oom Rasper lyk soos ’n ruimtewese met sy noupassende leerbaadjie, ronde brilletjie, leerkeps en weglê-leerhandskoene.

Hy rev die enjin ’n paar keer, los die clutch en ons vlieg met ’n vaart weg. Die wiele sing op die gruispad. By die T-aansluiting draai ons links verby die geboue van Vaalwater en tel spoed op in die rigting van Nylstroom. Die pad klim stadig.

Op die kruin hou ons stil. Die Sandrivierspoort verbind die Bosveld met die res van die wêreld. Oom Rasper skakel na die laagste rat en ons beweeg teen ’n slakkepas af. By die gebou van die Sandrivier-polisiepos hou ons stil en klim af om ’n bietjie bene te rek.

Oom Rasper stap om die Harley, skop ’n bietjie hier, vat-vat ’n bietjie daar en vryf oor die petroltenk. Ná ’n ruk val ons weer in die pad.

Spoedig ry ons oor die sementbrug van die Sandrivier. Dan regs by die bordjie wat Tweestroom lees.

Digby dié stasietjie weer links en ons volg die spoorlyn na Alma. By die volgende T-aansluiting draai ons regs, gaan oor die Magol, oor die spoorlyn en weer regs deur die hek van die skool se koshuisterrein.

Die koshuiskinders maak ’n kring om die Harley en gaap die halfverkluimde reisigers aan.

Die koshuismoeder nooi ons al drie in om ’n bordjie pap en beker koffie te geniet. Ons groet oom Rasper en bedank hom innig vir die wonderlike naweek en onvergeetlike reis.

Hy bestyg die Harley en vat die pad terug Bosveld toe.

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.