Elke jaar sterf Ma weer in die winterweer en die hartseer breek my opnuut.

Ek het God destyds gevra of ek Ma net een keer weer kon sien, en Hy het geluister. Ek het Ma opgespoor, en toe het jy kaalvoet soveel kilometers na my toe geloop. V

erwaarloos, sku en teruggetrokke het ek Ma voor my seuntjie se skool gekry waar jy in ander mense se kar gewag het. Ma, ek sou jou kom haal het!

Ek het Ma vasgehou en soveel keer gesê ek is jammer; ek het jou lief; dat dit net makliker was om al die jare vir die kinders te sê Ma is dood.

Ek was ook maar net ’n kind toe jy weg is. Ek weet Ma moes my ook liefgehad het. Maar Ma wou terug na Secunda se koue strate toe. Na ’n man met ’n hondjie oor wie Ma nie kon ophou praat nie.

Ons het Mammie teruggevat soos jy gevra het. En al die pad terug na my eie huis met jou vergete koue koeldrank op die vloer van die motor het ek heelpad gehuil soos ek nog nooit tevore gehuil het nie.

Twee weke daarna en ná ’n groot gesoek het ek Ma weer gekry net om Ma se klein lyfie op jou laaste rit te vergesel.

Ek onthou nog die klanke en woorde van Enrique Iglesias se lied Escape.

Ma, ek wou nog soveel dinge vir jou gesê het. Soos dat ek twee keer die verjaardaggeskenkies gekry het wat jy na my gestuur het daar by Oupa.

Ma, ek mis jou. Ek huil steeds oor jou. Ek wil vir almal sê: Al bly jou ouers op ’n ashoop is hulle steeds jou ouers. Ma, ek sal jou volgende jaar weer in my hart begrawe.

– Anoniem

Skryf vir ons